Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Witte, wees bly jy’t werk’

’n Dag nadat die ANC vure moes doodslaan oor omstrede name op sy lys van verkiesingskandidate moes hy ’n LUR in die bek ruk oor ’n rasgerigte tirade oor projekte wat sy wil gebruik om stemme vir die verkiesing mee te werf.

Faith Mazibuko. Foto: Daily Sun

In ’n klankgreep van ’n vergadering op 15 Februarie kan gehoor word hoe Faith Mazibuko, LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in Gauteng, op se­nior personeellede skree omdat beloofde, veeldoelige sportgeriewe (kombi-bane) nog nie gebou is nie.

 Sy sê onder meer aan twee vroue dat hulle dankbaar kan wees hulle het werk, in ag genome hul velkleur. 

“Sommige departemente wil nie eens ’n wit vrou of ’n Indiër-vrou sien nie. Dit gaan nie oor rassisme nie. Dit is omdat julle daarvan hou om Engels te praat,” sê sy.

Die klankgreep is aan ama­Bhungane gegee. Mazibuko het na bewering druk op die amptenare uitgeoefen om tenderprosesse te omseil om die sportgeriewe voor die verkiesing te bou sodat sy stemme daarmee kan werf.

‘Bly stil. Jy irriteer my’
  • “Lalelani la, julle twee, julle twee, ek wil daardie kombi-bane (combi courts) hê. Hoe julle dit doen, as dit beteken dat julle dit met jul hande moet gaan bou, julle moet dit doen.”
  • Sy sê haar kantoor is die enigste met ’n wit departementshoof en ’n Indiër as hoof van finansies. “Dit is duidelik dat julle nie gereed is om in dié omgewing te werk nie, ek bemagtig julle, julle is nie bemagtigbaar nie. Watter ander departement het ’n Indiër as finan­siële hoof? Watter ander departement? Jy is die tweede een, ’n vrou, jy moet jou sterre dank. ) “Gaan doen jou werk en bestee. Moet my nie antwoord nie. Bly stil. Jy irriteer my. As julle bereid is om aan my stories te gee, gee my dan jul bedankingsbriewe. Dan kry ek nuwe mense wat bereid is om my geld te bestee.”

Sy steur haar nie aan amptenare wat sê daar is nie ’n wettige manier om die werk so gou te laat doen nie. 

Jacob Khawe, ANC-sekretaris in Gauteng, sê Mazibuko sal voor die party se integriteitskommissie in die provinsie verskyn oor haar “onaanvaarbare uitlatings”. 

Mazibuko het amptenare wat op die vergadering was, almal in die departement, asook die mense van Gauteng, later in ’n verklaring om verskoning gevra vir haar stemtoon en “algemene gedrag”. Sy ontken wel dat sy onwettige opdragte gegee het.  

Khawe ontken ook dat Mazibuko tenderregulasies wou omseil. Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) sê in ’n verklaring die vakbond is met afgryse vervul oor die voorval. Ivan Fredericks, PSA-hoofbestuurder, sê die voorval wys dat politieke leiers enige kans sal aangryp om reëls in die staatsdiens te omseil. 

Hy wys ook daarop dat amptenare in gevalle soos Nkandla aangesê word om goedkeuring te gee vir onreëlmatighede. 

"Die PSA loof die werknemers wat geweier het om reëls te verontagsaam.”

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, sê Mazibuko se uitlatings is iets waaroor mense woedend kan raak.

“Afgesien van die manier waarop sy opdragte gee, sê sy ook waarom die ANC nie ‘Indiërs en wit mense’ as senior amptenare wil hê nie. Wat ’n verrassing,” het sy getwiet. 

Die Ahmed Kathrada-stigting doen ’n beroep op David Makhura, Gautengse premier, om Mazibuko te ontslaan. 

Meer oor:  Faith Mazibuko  |  Politiek  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.