Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
W’kloof: ‘Les is nie geleer nie’

Die “smousery” met oudpres. Jacob Zuma en ander se name destyds met die landing van die Gupta-bruilofstraler op die Waterkloof-lugmagbasis het ernstige skade aan die land aangerig.

Nonkululeko Sindane

“As ’n staatsamptenaar was ek ontsettend verleë,” het Nonkululeko Sindane, voormalige direkteur-generaal (DG) van justisie en staatkundige ontwikkeling, Woensdag in haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê.

“Ek was verleë oor hoe dit moontlik was dat mense wat nie Suid-Afrikaners is nie, op ’n strategiese plek geland het vir ’n troue. Ek het gevoel, hoe kon ons nie hierdie ding sien kom het nie . . .

“Wanneer nasionale hulpbronne op hierdie vlak misbruik word, is dit ’n skok. Want mense word afgedank vir die kleinste dingetjies. Ek is vandag steeds teleurgesteld, soos destyds. As die media nie dit uitgevind het nie, sou dit aangegaan het en niemand sou daarvan geweet het nie.”

Sindane het verwys na die ondersoek daarna waarby sy betrokke was. Dit is gedoen deur die interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid.

Sy het gesê die voorval het die regering geruk soos wat sy nog nooit voorheen ervaar het nie. Sy het nog nooit so ’n reaksie aanskou nie.

“Ek was nog nooit op vergaderings waar daar so baie senior amptenare in een vertrek was wat net een ding bespreek het nie.”

Sy het gesê een van hul aanbevelings was dat naamsmousery uitgeroei moet word.

“Die staatsdiens moet iets doen om die kwessie te takel, want dit is gevaarlik vir die regering en die land.”

Sy het gesê daar is destyds bevind die name wat misbruik is om die landing toegelaat te kry, was onder andere dié van Ben Martins (toe minister van vervoer), Nosiviwe Mapisa-Nqakula (toe minister van verdediging) en “Nommer Een”.

Sy het getuig daar kon destyds geen bewys gevind word dat Zuma (vermoedelik Nommer Een) enige aandeel gehad het aan die sage nie.

Sy wou self met Zuma praat, maar die DG in die presidensie het gesê dis nie moontlik nie en hy sal self vrae beantwoord.

Sy het gesê Bruce Koloane, destyds die protokolhoof in Zuma se kantoor, het die term “Nommer Een” sowel as die name van die ministers in die presidensie gebruik om amptenare te oorreed om die landing te magtig.

Die verslag het getoon die Indiese hoë kommissie, Koloane en lt.kol. Christine Anderson was vir die magtiging verantwoordelik. Aanklagte is later teen Anderson laat vaar, maar Koloane het skuld beken aan ’n oortreding van die weermag se verdedigingskode. Hy is later bevorder tot ambassadeur in Nederland.

“Het ons iets daaruit geleer? Ek sou sê ons kon iets geleer het as daar opgetree is,” het Sindane gesê. Baie glo dat niemand ooit werklik verantwoordelik gehou is nie. “Die werklikheid is as ons as publiek nie kwaad genoeg is nie, gebeur niks nie.”

Sindane is gevra oor Jacques Pauw se boek The President’s Keepers waarin beweer word sy is beloon vir haar verslag waarin Zuma verontskuldig is.

Sy sê dit het haar ontstel. Sy sê sy is nie beloon nie en is na die private sektor.

“Ek wil dit op rekord plaas: Ek was nie ’n ‘president’s keeper’ nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.