Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Woede: Want staatskapers lei komitees!

Woede laai op oor die aanwysing van die ergste oortreders in oudpres. Jacob Zuma se kabinet om toesig te hou oor talle kritiek belangrike parlementêre komitees.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het ’n donker skadu oor die parlementsopening gewerp met sy aankondiging Woensdagmiddag dat Faith Muthambi, Mosebenzi Zwane, Bongani Bongo en selfs Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, komitees sal lei.

Die skerpste kritiek het gekom van Sipho Pityana, voorsitter van Besigheidseenheid Suid-Afrika, wat Vrydag gesê het die aanstelling van ’n “galery van skurke” maak al Ramaphosa se goeie werk sover ongedaan.

“Dis ’n belediging vir die gemeenskap – dis verraad. Dat ’n liggaam met die status van die parlement niks daarmee verkeerd sien om mense aan te stel wat beskou word as korrup en oneties nie, is ’n teken aan die wêreld dat ons nog meer gaan kry van dit waarmee ons in die Zuma-tydvak gestraf is,” het Pityana Vrydag in ’n paneelbespreking gesê.

Dis mense soos hierdie wat ons in die tien jaar van die Zuma-bewind gebring het waar ons vandag is.

Magashule het die vorige week in ’n koukusvergadering aangekondig dat Muthambi voorsitter van die justisiekomitee sou word, maar die koukusvergadering is beëindig op aandrang van pres. Cyril Ramaphosa omdat die lys voorsitters wat Magashule voorgelees het, nie aan die ander top-ses ANC-amptenare voorgelê is nie.

“Bongo en Zwane was nie op daardie lys nie, maar Muthambi sou volgens dié lys beslis voorsitter van die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste gewees het. Dit sou haar baie mag gegee het oor die aanbevelings van die Zondo-kommissie en die komende ondersoek na die bevoegdheid van die huidige openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane,” het ’n ANC-parlementslid Vrydag aan Rapport gesê.

Volgens daardie lys sou Sfiso Buthelezi, voormalige adjunkminister van finansies, voorsitter word van die portefeuljekomitee vir finansies.

Maar op die volgende koukusvergadering Woensdagoggend is aangekondig dat Mu­thambi voorsitter word van die portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, die departement waarvan dr. Nko­sazana Dlamini-Zuma die minister is. “Die twee gaan gereeld swaarde kruis. Dlamini-Zuma sal waarskynlik ’n groot rol moet speel daarin om van die bankrot stadsrade in landelike gebiede oor te neem. Daarvoor gaan sy ondersteuning van Muthambi nodig hê,” het Rapport se bron gesê.

Op die voorsitterlys wat Magashule Woensdag bekend gemaak het, is net twee uit 35 voorsitters welbekend as Ramaphosa-ondersteuners: Mon­dli Gungubele, voormalige adjunkminister van finansies, nou voorsitter van die portefeuljekomitee vir maatskaplike ontwikkeling, en Peace Mabe, voorsitter van die gesamentlike komitee oor finansies – ’n pos met min politieke magte.

Alles is egter nie verlore vir Ramaphosa in die parlement nie.

Die ANC se koukus se dag-tot-dag-bedrywighede word bestuur deur die politieke komitee, ’n heelwat kleiner struktuur waarvan adj.pres. David Mabuza voorsitter is. Die komitee van 15 sluit in Thandi Modise, speaker van die parlement, Pemmy Majodina, hoofsweep, en senior kabinetslede wat Ramaphosa se naaste vertroueling insluit, waaronder Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Nko­sazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende ontwikkeling en Thoko Didiza, minister van landbou en grondsake.

Onder die Zumaïete wat komitees lei, is egter ook Zwane, voormalige minister van minerale bronne wat gesorg het dat die Guptas beheer kry oor die Optimum-steenkoolmyn, en Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid wat daarvan beskuldig word dat hy die parlement se regsadviseur, adv. Ntuthuzelo Vanara, probeer omkoop het om die Eskom-ondersoek te verongeluk.

Zwane word voorsitter van die portefeuljekomitee vir vervoer, wat van deurslaggewende belang is vir Ramaphosa se ambisies om Prasa se voorstedelike treine eindelik reg te ruk.

Bongo is voorsitter van die komitee vir binnelandse sake. Dié droewige departement, waar dr. Aaron Motsoaledi die nuwe minister is, is ook belangrik om Ramaphosa se droom te realiseer om teen 2031 die getal toeriste wat Suid-Afrika besoek meer as te verdubbel tot 21 miljoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.