Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Woedende ANC-lede wil Magashule verkla

’n Ontstoke groep ANC-lede in die Dullah Omar-streek van die Kaapstad-metro het beloof om die party te “straf” omdat hul klagtes oor die streekkonferensie “blatant geïgnoreer is”.

Die groep het Ace Magashule, die ANC-sekretaris-generaal, behoorlik die hare ingevlieg en gesê hulle gaan hom by die party se integriteitskommissie verkla vir sy rol in die betwiste streekkonferensie.

Ace Magashule

Die lede is ontevrede met die uitslae van die konferensie wat die naweek gehou is. Die Dullah Omar-streek het die naweek hul nuwe leierskorps gekies en die meeste van hul vorige uitvoerende komitee behou, insluitend die streeksvoorsitter Xolani Sotashe. Joseph Thee is as ondervoorsitter verkies, Vuyiso (JJ) Tyhalisisu as streek-sekretaris, Charlotte Heynes is die adjunk-sekretaris terwyl Patrick Mgxunyeni die streektesourier is.

“Ons sal die ANC straf omdat hulle ons pleidooi geïgnoreer het. Ons word soos weeskinders in die ANC behandel,” sê Andile Lili, woordvoerder van die groep.

Lili voer aan die streekkonferensie was ’n klug.

“Daar het takke deelgeneem wat nooit eens hul takjaarvergaderings gehou het om afgevaardigdes vir die streekkonferensie te kies nie. Mense wat die ou leierskorps ondersteun het, is ingesmokkel om stemme te werf.”

Lili is ook van mening dat die nodige kworum nie bereik is nie en dat die konferensie dus ongeldig was.

Die ANC-lid het hom verder skerp teenoor Magashule uitgespreek.

“Hy is oneerlik en het geen geloofwaardigheid nie,” sê Lili.

Andile Lili, uitgesproke ANC-lid in die Dullah Omar-streek in die Kaapstad-metro. Foto: Lindile Mbontsi

Hy sê hulle gaan ’n brief aan die nasionale leierskorps van die ANC skryf om hulle misnoeë uit te spreek.

Faiez Jacobs, Wes-Kaapse sekretaris van die ANC, het in ’n verklaring die nuutverkose leiers verwelkom en toegegee dat die streekkonferensie nie sonder uitdagings was nie.

“Daar was pogings om die konferensie met ’n hofbevel te keer, maar die hof het die aansoek verwerp.”

Jacobs maan lede dat hulle nie aan die konferensie kan deelneem en daarna “hof toe hardloop as die uitslae nie in hul guns is nie”.

Hy sê die provinsiale uitvoerende komitee van die party sal besluit oor die pad vorentoe ten opsigte van die ontevrede lede.

Jacobs het al vyf die party se streke gelukgewens dat hulle hul streekkonferensies afgehandel het.

“Ons fokus is nou op die 2019-verkiesings en ons het die regte wenspan.”

Meer oor:  Kaapstad-Metro  |  Ace Magashule  |  Klagte  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.