Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Word wakker, dié onteiening sal SA oor afgrond stuur’

Suid-Afrikaners moet wakker word en besef die wysiging aan art. 25 van die Grondwet – wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak – hou die grootste gevaar tot nog toe in vir demokrasie in Suid-Afrika.

So het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, Donderdagoggend op ’n mediakonferensie van die DA, Vryemarkstigting en Sakeliga gesê.

Dit kom nadat die ANC en EFF op die laaste dag van die sitting van die parlementêre ad hoc-komitee wat die wysiging van die artikel ondersoek het, verdere voorstelle daaroor ter tafel gelê het.

Dr. Ivan Meyer

Dié voorstelle gaan oor staatsvoogdyskap oor grond as ’n natuurlike hulpbron, die verminderde rol van howe in die bepaling van die vergoedingsbedrag en die verwydering van die 1913-afsnydatum vir restitusie-eise.

Meyer het gewaarsku die wysiging van art. 25 kan ernstige gevolge vir die land inhou.

“Die ANC-EFF-koalisie het dit met dié voorstelle duidelik gemaak hulle wil deur die wysiging van art. 25 Suid-Afrikaners se reg ontneem om grond te besit. Hul oogmerk is om grond uiteindelik te nasionaliseer,” het hy gesê.

“Dit druis in teen die handves van menseregte in ons Grondwet, wat bepaal elke mens het die reg om eiendom te besit.

“Dit bedreig voorts die oppergesag van die reg. Die DA sal nie stilsit en toekyk hoe die land se ekonomie en finansiële stelsel oor die rant van die afgrond gesleep word nie.”

Hy sê die DA sal, as dit nodig word, die grondwetlikheid van die voorstelle in die howe laat toets.

Die party sal hom ook tot die buiteland wend om druk op die regering oor die kwessie te plaas.

“Hierdie wysigings aan die Grondwet moes eintlik nooit na die parlement gebring word nie.

“Die hele grondhervormingsproses was tot nou toe chaoties weens onder meer swak regering, korrupsie en geen ondersteuning aan nuwe boere nie.

“Korrupsie is endemies aan grondhervorming.”

Die hele grondhervormingsproses was tot nou toe chaoties weens onder meer swak regering, korrupsie en geen ondersteuning aan nuwe boere nie.

Die ANC se eie hoëvlak-paneel wat die kwessie van grondhervorming ondersoek het en gelei is deur oudpres. Kgalema Motlanthe, het self bevind korrupsie en die gebrek aan politieke wil is die grootste probleem met grondhervorming.

“Grondhervorming kán suksesvol uitgevoer word. Die DA het in die Wes-Kaap gewys dit kan gedoen word.

“90% van die nasionale regering se grondhervormingsprojekte is ’n mislukking. In die Wes-Kaap het ons ’n suksessyfer van oor die 70%.”

Hy sê die ANC wil die voorbeeld volg van Venezuela, wat in 1999 sý grondwet verander het.

“Nou is Venezuela besig om in te plof en daar is ’n gebrek aan kos vir die land se mense.

“As ons toelaat dat eiendomsreg hier verdwyn, sal ons ekonomie en finansiële instellings ook in duie stort. Wat ons nou nodig het, is pragmatiese en regverdige grondhervormingsplanne.”

Dit help ook nie dat baie ANC-lede nie dieselfde siening oor die kwessie het as hul leier, pres. Cyril Ramaphosa, nie.

Geen staat of politieke party mag toegelaat word om mag te hê oor mense se eiendomsreg nie.

Chris Hattingh van die Vryemarkstigting sê die wysiging van art. 25 is nie die oplossing nie.

“Die staat moenie meer magte gegee word nie. Dit sal veral ten koste van arm Suid-Afrikaners wees.

“Geen staat of politieke party mag toegelaat word om mag te hê oor mense se eiendomsreg nie.”

Martin van Staden van die Sakeliga het gesê die konfiskering (onteiening sonder vergoeding) van grond druis in teen demokratiese regering omdat demokrasie en eiendomsreg nie van mekaar geskei kan word nie.

“Dit is ook nie versoenbaar met ons Grondwet nie en sal disinvestering in die land nog verder laat versnel.”

Meer oor:  Sakeliga  |  Ivan Meyer  |  Onteiening  |  Grondwet  |  Afgrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.