Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
WVF verhaal reeds R3,5 mjd. ná bedrieglike Ters-eise

Minstens 75 strafsake is tot dusver geopen teen mense wat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-skema na bewering ingeloop of bedrieg het.

Hiervoor is 11 mense reeds in hegtenis geneem, terwyl die WVF al R3,5 miljard wat onregmatig uitbetaal is, verhaal het.

So het Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, Woensdagmiddag aan LP’s gesê toe hy die Nasionale Vergadering oor die jongste verwikkelinge rakende die Ters-skema toegespreek het.

Dié skema het teen Maandag reeds R49,5 miljard se voordele in meer as 11 miljoen uitbetalings aan gesamentlik vyf miljoene werkers uitbetaal.

Thulas Nxesi Foto: Daily Sun

Dit terwyl die WVF terselfdertyd R7,8 miljard in gewone WVF-voordele uitbetaal het.

Nxesi sê die WVF het weens die groot bedrae geld wat by die Ters-skema betrokke is, gewaak teen bedrog.

“Die Covid-19-Ters-skema word gebruik waarvoor dit bedoel is – om beskerming te bied aan werknemers wat tydelik afgelê is.”

Volgens hom word daar ook opgetree ná die ouditeur-generaal se bevindings oor die Ters-skema, en word bedrog en korrupsie beslissend uitgeroei.

Nxesi het bygevoeg dat 157 Ters-verwante sake ook deur die spesiale ondersoekeenheid ondersoek word.

Hiervan hou 90 verband met beweerde bedrog met eise wat vir “spookwerkers” ingedien is, sowel as maatskappye wat eise ingedien het terwyl hulle nog ten volle operasioneel was, maatskappye wat eise vir werkers ingedien het wat nie meer vir hulle werk nie, en samespanning tussen werkgewer en werknemer om bedrieglike eise in te dien.

Volgens Nxesi is bankrekenings en bates in sommige gevalle bevries.

Die WVF volg ook tans uitbetaalde gelde wat ingevoerder moet word op met agt oudit- en forensiese firma’s wat landwyd aangestel is om die ondersoeke te bespoedig.

Volgens Nxesi het die WVF se risikobestuur-eenheid ook vermeende bedrog en korrupsie met die skema geïdentifiseer en word daar nou strenger opgetree om rekenskap van alle Ters-gelde te gee.

“Ek moet ook sê dat selfs voor die werk en bevindinge van die ouditeur-generaal, het die WVF se interne ouditkomitee en die risiko-eenheid hard gewerk en kwessies wat strenger beheer of ondersoeke benodig geïdentifiseer en dit aan die WVF-topbestuur oorgedra.”

Hy meen dit is waarom hy die topbestuur geskors het omdat behoorlike finansiële beheer hul verantwoordelikheid is.

Die koronavirus het ons geen tyd gegee om voor te berei, na te vors of ’n omvattende plan saam te stel en dit eers vooraf te toets nie.

Nxesi het ná klagtes van verskeie LP’s Dinsdagmiddag oor die Ters-uitbetalingstelsel bygevoeg “ons leer en verbeter uit opbouende kritiek en voorstelle”.

“Ons moet egter gebalanseerd wees en die werkgewers wat te veel geld geëis en ander wat nie uitbetaalde gelde aan werkers gegee het nie, veroordeel, al is hulle ons vennote. Daar is aan beide kante mense wat verkeerd opgetree het.

“Die suksesse van die WVF is egter baie groter as die probleme.

“Die koronavirus het ons geen tyd gegee om voor te berei, na te vors of ’n omvattende plan saam te stel en dit eers vooraf te toets nie.”

Volgens hom kan die werkverliese weens die staat van inperking ook baie meer as die 2 miljoen wees wat vroeër bekend gemaak is.

Hy sê dat die inwerkingstelling van pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan daarom kritiek belangrik gaan wees vir die skep van meer werkgeleenthede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.