Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wye reaksie oor nuwe Opod-baas

Die aanstelling van Jennifer Dikeledi Ntlatseng as die nuwe uitvoerende direkteur van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het Dinsdag wye reaksie ontlok.

Mandisa Mashego, EFF-lid en menseregteaktivis, sê Opod moet onafhanklik staan van enige politieke inmenging. “Die pos moet soortgelyk wees aan die onpartydigheid van die openbare beskermer of die ouditeur-generaal. Dit is ’n tree in die verkeerde rigting dat Opod-aanstellings deur dieselfde mense gemaak word wat die organisasie veronderstel is om te ondersoek,” sê Mashego.

Volgens haar is die polisieminister en sy adjunk nie veronderstel om enigsins betrek te word by sulke aanstellings nie. “Daar is een of twee persone met ’n briljante rekord en meer ervaring wat oor die hoof gesien is vir dié belangrike pos,” meen Mashego.

Die nuwe Opod-baas, Jennifer Dikeledi Ntlatseng. Foto: Linkedin

“Die DA steun nie dié aanstelling nie en is van mening dat die parlement weer tot niks meer gereduseer is nie as rubberstempel van die ANC,” sê Andrew Whitfield, LP en DA-woordvoerder oor polisie.

“Daar is tans ’n saak voor die howe rakende die hernuwingsproses van die voormalige Opod-hoof, en vroeër hierdie jaar het die minister self ’n sperdatum misgeloop om ’n nuwe hoof aan te stel. Ons herhaaldelike appèlle teen hierdie gebrekkige benoemingsproses is blatant geïgnoreer,” sê Whitfield.

Hy beskou die aanstelling van Ntlatseng as strydig met die wet wat vereis dat die pos binne ’n jaar gevul moet word.

“Die paneel vir keuring was met ANC-politici belaai. Dit op sigself laat ’n wolk van agterdog en twyfel hang oor die benoemings- en aanstellingsprosesse,” sê Whitfield.

Marius Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, sê die aanstelling van Ntlatseng as Opod-baas is in omstredenheid gehul deur bewerings van ongerymdhede. “Nietemin hoop AfriForum dat haar aanstelling stabiliteit sal bring en sy haar funksies sonder enige politieke inmenging sal kan uitvoer,” sê hy.

Richard Mamabolo, Popcru se woordvoerder, sê dit maak nie saak wie aan die hoof van Opod staan nie maar eerder dat die persoon stabiliteit bewerkstellig.

“In die verlede was daar verskeie uitdagings, veral as dit by leierskap kom, maar ons verwelkom die aanstelling van die eerste vrou aan die stuur van hierdie belangrike instansie en ons hoop dat dit deursigtigheid tot gevolg sal hê,” sê Mamabolo.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, het vroeër sy kommer uitgespreek dat Ntlatseng deur die minister van polisie gemanipuleer kan word omdat daar nog tergende vrae rondom haar aanstelling bestaan.

Meer oor:  Opod  |  Jennifer Dikeledi Ntlatseng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.