Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wynbedryf kan nie nog ’n verbod bekostig, maan DA

Die DA in die Wes-Kaap het gewaarsku dat die wynbedryf in die provinsie nie nóg ’n verbod op drankverkope kan bekostig nie.

Andricus van der Westhuizen, die DA se provinsiale woordvoerder oor landbou en omgewingsake, het Woensdag gesê die volle omvang van die skade aan die bedryf weens die inperkingsregulasies raak nou al hoe duideliker.

Andricus van der Westhuizen Foto: Eikestad Nuus

Hy het verwys na ’n onlangse rubriek in Business Day wat noem dat wynuitvoerders na raming 80 miljoen liter se verkope verloor het tydens vlak 5 van die inperkings.

“Dit het nou bekend geraak dat wynuitvoer met byna 40% oor die afgelope ses jaar gedaal het,” sê Van der Westhuizen in ’n verklaring.

Daarby het plaaslike wynverkope verlede jaar glo ook met 40% gedaal.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat hoewel dié maatreëls ’n ongunstige uitwerking op die Kaapse wynbedryf het, is dit nie die enigste oorsaak van sy agteruitgang nie.”

Hy het ook daarop gewys dat uitvoer van ’n piek van 525 miljoen liter in 2013 tot 319 miljoen liter in 2019 gedaal het.

“Te oordeel aan die tekort aan steun aan die landbou deur die nasionale regering, onder meer aan die wynbedryf, kom dit as geen verrassing nie.”

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Foto: Verskaf

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het by navraag gesê hoewel die pandemie nog nie verby is nie, hoop hy die beleidmakers “het intussen lesse geleer uit die maatskaplike en ekonomiese skade wat ondeurdagte regulasies vir die landbousektor tot gevolg gehad het”.

“Dit gaan oor meer as net die wynbedryf; dit gaan oor ’n totale wynwaardeketting wat negatief geraak word. Tydens die vlak 5-inperkings is ander landboubedrywe, soos die wol-, sybokhaar-, tabak- en blommebedrywe ook verbied om sake te doen. Dié bedrywe kan ook nie nog ’n verbod bekostig nie.”

Strydom sê die landbousektor in geheel het nodig om in volle produksie te bly ter wille van ’n gesonde ekonomie en om werksgeleenthede en voedselsekuriteit te beskerm.

Van der Westhuizen sê hy glo met die “regte ingrypings” en ondersteuning van die regering kan die wynbedryf ’n bydrae lewer tot broodnodige werkskepping en ekonomiese herstel ná die pandemie.

Hy het ’n beroep op die nasionale regering gedoen om dringend met die wynbedryf te vergader om “slimmer, minder skadelike maatreëls” rakende toekomstige regulasies weens die Covid-19-pandemie te oorweeg.

“Hoewel dit baie laat is, is dit van kritieke belang dat die regering met produsente in gesprek tree oor beleid en inisiatiewe om bestendigheid en produktiwiteit op lang termyn te verseker. Daarsonder gaan ons waarskynlik verdere werkverliese sien in dié bedryf en ander wat dit ondersteun.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Wynbedryf  |  Covid-19  |  Inperkingsmaatreëls  |  Koronavirus  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.