Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wysiging bemagtig staat oor grond

Dit lyk of die voorgestelde onteieningswetsontwerp die ANC-faksie wat “radikale ekonomiese transformasie” (RET) voorstaan se vuur oor ’n wysiging aan die Grondwet geblus het.

Ace Magashule, die sekretaris-generaal van die ANC.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC wat as ’n leiersfiguur van dié faksie beskou word, het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê hy beskou die nuwe voorgestelde onteieningswetgewing as ’n vervulling van die ANC se omstrede Nasrec-resolusie oor grondonteiening sonder vergoeding.

Die wetsontwerp, wat vroeër vandeesmaand in die Staatskoerant gepubliseer is, maak in uiterste omstandighede voorsiening vir grondonteiening sonder vergoeding. Dit is egter ’n afsonderlike proses as die proses waarmee die regering art. 25 van die Grondwet wil wysig. Dié proses is begin toe ’n resolusie by die ANC se Nasrec-konferensie aanvaar is oor onteiening sonder vergoeding.

Magashule se kommentaar Dinsdagaand ná afloop van ’n vergadering in Durban met die Umkhonto weSizwe-vereniging vir militêre veterane (MKMVA), blyk egter koue water op planne oor ’n omvattende verandering aan die Grondwet te gooi.

Hy het met die MKMVA vergader nadat die organisasie die afgelope twee weke landwyd betogings gehou het onder meer omdat die ANC-leierskap glo nie hul beloftes gestand doen om die Nasrec-resolusies uit te voer nie.

’n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee sê die jongste wetgewing sal die RET-faksie van die president se rug af hou.

“Ons sal alle konferensieresolusies in werking stel,” het Magashule Dinsdagaand gesê. “Thoko (Didiza, minister van grondhervorming) het met ernstige wetgewing oor onteiening van grond sonder vergoeding begin. Daardie wetgewing sal deurgevoer word. Dit is nou daar vir die publiek om daaroor kommentaar te lewer.

“Thoko het vir ons gesê sy sal staatsgrond adverteer wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Ons begin die resolusies in werking stel.”

Kebby Maphatsoe, leier van die MKMVA, het Magashule se standpunte Vrydag teenoor Rapport beaam.

“Ja, dit is ’n stap in die regte rigting met grondonteiening. Die sekretaris-generaal het aan ons beloof dat ons deel sal wees van hierdie gesprekke rondom die grond vorentoe, so ons is tevrede daarmee.”

’n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, wat op voorwaarde van anonimiteit praat, sê die jongste wetgewing sal die RET-faksie van die president se rug af hou. “En ons kon dit doen sonder om ons kern­resolusie van grondonteiening sonder vergoeding prys te gee.”

Prof. Elmien du Plessis, ’n regs- en grondhervormingskenner aan die Noordwes-Universiteit, sê dis “hoog tyd” vir nuwe wetgewing. “Die nuwe wetgewing verduidelik mooi stapsgewys vir amptenare wat met grondonteiening te doen gaan kry in watter gevalle en hoe onteiening kan plaasvind.”

Die wetsontwerp bemagtig nie net die staat om grond sonder vergoeding te onteien nie, maar verduidelik ook dit kan slegs gebeur wanneer dit ’n “openbare doel” dien of in openbare belang is. “Dit mag nie uitgeoefen word tensy die onteieningsgesag sonder sukses probeer het om ’n ooreenkoms met die eienaar van die eiendom te beding vir die verkryging daarvan teen redelike voorwaardes nie,” lui die wetsontwerp.

Dit sal nou aan ’n openbare deelnameproses onderwerp word.

Die voorgestelde nuwe wet maak dit ook duidelik dat eienaars van eiendom ’n “regverdige en billike bedrag” moet kry wat “ ’n billike balans tussen die openbare belang en die belange van die onteiende eienaar” vind.

Eiendom mag slegs sonder vergoeding onteien word vir “openbare belang”:

  • Waar grond nie vir sy hoofdoel gebruik word nie, en waar die eienaar se hoofdoel is om sy markwaarde te laat styg, in plaas daarvan om die grond te ontwikkel of om ’n inkomste daaruit te genereer;
  • Waar ’n regeringsorganisasie grond besit – wat dit verniet gekry het – en nie die grond vir sy hoofdoel gebruik nie;
  • Waar ’n eienaar die grond verlaat het deur nie meer beheer daaroor uit te oefen nie;
  • Waar die markwaarde van die grond gelyk is aan, of minder is as, die huidige waarde van direkte staatsinvestering of -subsidie ??in die verkryging en voordelige kapitaalverbetering van die grond; en
  • Waar die natuur of die toestand van die eiendom ’n gesondheids-, veiligheids- of fisieke risiko vir persone of ander eiendomme inhou.

Onteiening sonder vergoeding sal ook slegs gebruik kan word indien die howe daartoe instem. Individuele gevalle kan in die hof op appèl geneem word. Kritici van die wetsontwerp, waaronder die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), is egter besorg oor die koste van sulke hofsake. Die IRV meen ook ingevolge die wetsontwerp kan die hof eers ná die onteiening genader word.

Die ad hoc-komitee om art. 25 van die Grondwet te hersien sou vanjaar met openbare verhore voortgaan, maar dit is deur die inperking gestuit en hulle het die spertyd misgeloop om die wysiging in Mei voor te lê.

Die Nasionale Vergadering het in Junie ’n nuwe komitee in die lewe geroep om na die wysiging te kyk.

Dié komitee wil die oorblywende openbare verhore in Limpopo, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap binne twee weke hervat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.