Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Xsê . . .’ is die slagspreuk vir Mei se verkiesing

“Xsê, jou kruisie is jou stem”.

Dít is die slagspreuk van vanjaar se algemene verkiesing wat in Mei plaasvind.

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het Donderdag die slagspreuk in Midrand, Johannesburg, bekend gestel.

Xsê 2019 – die OVK se verkiesingslogo. Foto: Sarel van der Walt

Die presiese datum vir die nasionale en provinsiale verkiesings is nog nie bekend nie en sal later deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig word.

Dit sal die sesde nasionale en provinsiale verkiesing sedert die eerste demokraties verkiesing in 1994 wees.

Die bekendstelling is deur onder andere verteenwoordigers van politieke partye, die diplomatieke korps in Suid-Afrika en kerkgroepe bygewoon.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die OVK, het gesê die konstitusionele hof het in 2016 opdrag gegee dat die kiesers se adresse ook op die kieserslys moet wees. Toe was net 13 miljoen adresse op die lys. Nou verskyn 21,5 miljoen van die land se meer as 26 miljoen kiesers op die kieserslys.

“Dit beteken die name van 83% van die kiesers se adresse is nou op die kieserslys. Dit is nie waar ons wil wees nie omdat ons daarna strewe om al die kiesers se adresse op die lys te hê,” het hy gesê.

“Daarom het ons die konstitusionele hof uitstel gevra. Die hof het dit toegestaan en ons tot November vanjaar gegee om dit af te handel.

“Ons hoop om met die laaste registrasie-geleentheid gedurende die naweek van 26 en 27 Januarie, sowel as met die verkiesing self, baie van die uitstaande adresse te bekom,” het Mamabolo gesê.

Die OVK sal toerusting van die statistieke-generaal se kantoor gebruik om hiermee te help.

Mamabolo het kiesers wat nog nie geregistreer het nie, versoek om dit op 26 en 27 Januarie by registrasiepunte of aanlyn op die OVK se webwerf te doen.

Hy het gesê die OVK het die laaste 18 maande hard gewerk om te verseker dat die verkiesings in Mei glad sal verloop.

Hy het bekend gemaak dat daar in vanjaar se verkiesings altesame 22 927 stempunte landwyd sal wees. Dit is 300 meer as in die vorige verkiesing in 2014.

Die getal tydelike stempunte is van 1 495 tot 1 059 verminder. Daar sal ook 28 mobiele stempunte landwyd wees.

“Die meer as 32 000 toestelle wat gebruik word om kiesers se besonderhede op verkiesingsdag na te gaan, is gediens en gereed om gebruik te word,” het hy gesê.

Sowat 300 000 mense, onder wie kiesbeamptes, word opgelei om op verkiesingsdag toe te sien dat alles by die stempunte volgens plan verloop.

Meer oor:  Ovk  |  Verkiesing 2019  |  Slagspreuk  |  Logo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.