Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille besoek brandgebied by Knysna
Helen Zille Donderdagmiddag in die operasionele sentrum by die Eden-distriksmunisipaliteit in George. Foto: JACKIE KRUGER

Minstens 10 000 mense is in die Knysna-gebied ontruim ná grootskaalse brande, het die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, Donderdag in George gehoor toe sy in die operasionele sentrum by die Eden-distriksmunisipaliteit deur belanghebbendes oor die brande in Knysna ingelig is.

Sy het daarna na Knysna en Plettenbergbaai vertrek.

Zille is ingelig waar presies die brande begin het en die omvang daarvan.

Die brande in Knysna het intussen na Plettenbergbaai versprei en veral die deel tussen Robberg en die Beacon Island-hotel blyk geraak te word.

Gerhard Otto, hoof van Eden-rampbestuur, het aan Zille gesê minstens 10 000 mense is in die Knysna gebied ontruim. Mense word in sale en ander persele gehuisves. Toe die brande uitgebreek het, is kommunikasie bemoeilik want Telkom-lyne was af en probleme is met selfoonnetwerke ervaar. Daar is toe per e-pos gekommunikeer.

Op die vraag van Zille of van die brande opsetlik gestig is, het hy gesê die een by die Kruisfontein-plantasie buite Knysna is vermoedelik opsetlik begin. “ ’n Ondersoek is aan die gang,” sê hy.

Die brande in Knysna het intussen na Plettenbergbaai versprei.

Op die inligtingsessie het dit ook aan die lig gekom dat ’n brandweerman in Plettenbergbaai sowat 70% brandwonde opgedoen het. Hy is na ’n hospitaal in George gebring. Otto het ook verwys na drie mense – ’n egpaar en hul seun – wat in die Elandskraal-gebied buite hul huis gesterf het. Hulle is deur rook oorval.

Oor brandbestryding het hy gesê Donderdagmiddag was daar ’n venster toe die wind minder sterk gewaai het en waartydens helikopters sou kon help, maar lugbystand van die weermag was toe nog nie op die toneel nie.

Minstens 20 huise by Simola en 20 huise in die Pezula-omgewing het afgebrand, en maatskaplike werkers is na Knysna gestuur om mense te help met traumaberading. Pasiënte is ook van die Knysna-hospitaal ontruim en onder meer na die George-hospitaal gebring. Die Knysna-hospitaal self het nie gebrand nie en na verwagting behoort dit weer Maandag operasioneel te wees. Die meeste gebiede om Knysna is sonder elektrisiteit. In Sedgefield word tans gebruik gemaak van die ontsoutingsaanleg vir water omdat die pompstasie in die Karatara-gebied deur die brande beskadig is.

Zille het gesê sy is dankbaar dat groot nedersettings buite Bitou die brand vrygespring het. Sy het die brande bestempel as ’n frats. “Daar is mense wat alles verloor het. Die mense waaroor ek die bekommerdste is, is dié wat nie versekering het of hul lewens beter kan maak nie.”

Meer oor:  Helen Zille  |  Knysna  |  Slagoffers  |  Knysna-Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.