Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille: ‘Fopnuus gebruik om stories oor korrupsie te versprei’
Helen Zille, Wes-Kaapse premier.Foto: Lindile Mbontsi

Te veel skade word aangerig deur anonieme bronne wat fopnuus versprei, sê Helen Zille, Wes-Kaapse premier, na aanleiding van die bewerings van korrupsie teen een van haar kabinetslede, Bonginkosi Madikizela.

Madikizela, waarnemende leier van die DA in die Wes-Kaap en LUR vir behuising, word daarvan beskuldig dat hy konstruksiemaatskappye aangesê het om vir sy verjaardagpartytjie te betaal.

Dié maatskappye kry gereeld tenders van miljoene rande van Madikizela se departement. Hulle was onlangs ook betrokke by die Nuwe Begin-behuisingsontwikkeling in Blue Downs naby Eersterivier, waar hulle werk aan die elektriese bedrading gedoen het.

“In hierdie ‘post-waarheid’-tydperk word dit moeiliker om tussen die regte skandale en die valses te onderskei.” Sy sê omdat dit soveel makliker geword het om skandale op die lappe te bring, dit op sosiale media te versprei en aan die groot klok te hang, is dit belangrik om vas te stel wat waar of vals is.

Daarom het sy self die bewerings oor Madikizela ondersoek, talle mense gekontak, state nagegaan en met die organiseerders van die partytjie gepraat.

“Ek het die name van die skenkers (en die maatskappye waarby hulle betrokke is) by die hoof van finansies in die provinsiale departement van menslike nedersettings ingedien om self vas te stel of daar enige kontrakteurs van die departement of provinsie betrokke is. Geen, het die amptenaar gesê.”

Foto’s in Netwerk24 se besit wys egter hoe Madikizela kuier met direkteure van konstruksiemaatskappye wat gereeld tenders van miljoene rande van sy departement ontvang.

“Wat is die probleem dat hulle daar was? Dit was ’n verrassingspartytjie en ek het nie geweet wie daar gaan wees nie,” het Madikizela vantevore gesê in antwoord op ’n vraag oor die direkteure se teenwoordigheid en ’n moontlike botsing van belange.

Zille sê “in die parasitiese verhouding tussen sosiale media en tradisionele hoofstroommedia, word fopnuus gebruik om valse woede aan te blaas en sodoende nuus te maak. Die kwessies waaroor daar woede moet wees, bly baie kere ongesiens.”

Madikizela het verlede week onder lede van die Wes-Kaapse provinsiale koukus ingeklim en bewerings van korrupsie as kleinlik afgemaak. Hy glo dit is die “verloorders” wat agter die veldtog teen hom sit.

In Februarie vanjaar het Madikizela Lennit Max, DA-LPW, en Shaun August, hoofsweep in die Kaapse stadsraad, in die leiersverkiesing geklop. August het Madikizela se uitlatings verwerp en Max het hom aangeraai “om liewers net stil te bly”.

Zille sê woede word veral voor ’n leiersverkiesing vervaardig as deel van ’n moddergooiery in die stryd om poste.

Sy het ook verwys na nuusberigte in die Sunday Times en Cape Times.

“Ondanks mnr. Madikizela se ontkenning het die opskrif ’n oorweldigende indruk gewek dat kontrakteurs betaal het vir die partytjie van ’n politieke hoof van ’n departement – een wat tenders en kontrakte van miljarde rande toeken. Sou dit waar wees, sal dit onvanpas wees. Op sy ergste, sal dit op korrupsie dui,” het Zille gesê.

Daar is gevra sy moet dringende stappe doen.

“Ondervinding, die lewe se beste leermeester, het my gewaarsku om versigtig te wees. Kry soveel inligting as moontlik en praat met die betrokkenes voordat jy optree of openbare verklarings maak.”

Meer oor:  Helen Zille  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.