Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille het Vrydag eers oor terugkeerplan besluit

Helen Zille, die veteraanpolitikus wat saam met drie ander senior DA-leiers sake gaan uitspook vir die pos as voorsitter van die federale raad, het eers Vrydag besluit om haar naam in die hoed te gooi vir dié pos.

Dié pos word beskou as die magtigste naas dié van die DA-leier, Mmusi Maimane.

Die pos is vakant nadat James Selfe, wat 19 jaar lank die pos beklee het, in Junie aangekondig het hy gaan afstaan.

Helen Zille het die wenkbroue laat lig met haar aankondiging dat sy haarself as federale voorsitter van die DA beskikbaar sal stel. Foto: Argief

Die ander drie kandidate is Athol Trollip, Mike Waters en Thomas Walters.

Zille sê hoewel sy voornemens was om af te tree het verskeie leiers van die DA haar vandeesweek genader om aansoek te doen. Sy het nie die name van dié mense genoem nie.

“Ek het lank daaroor nagedink voordat ek besluit het om aansoek te doen.

“Ek het die voor- en nadele deeglik opgeweeg voordat ek die besluit geneem het.”

Zille sê sou sy verkies word, sal sy eerste ’n diagnose te maak van wat verkeerd geloop het in die binnestrukture van die party. Wat daarna prioriteit gaan geniet, sal afhang van wat daar uitkom.

Op die vraag oor of sy beoog om die kiesers wat die DA tydens die laaste verkiesing verloor het, terug te wen, sê Zille sy gaan nie ’n openbare verteenwoordiger wees nie, maar gaan toegespits wees om die party se prosesse te laat werk.

Dié voormalige Wes-Kaapse premier en oudleier van die DA, het die wenkbroue Vrydag laat lig toe sy op Facebook aankondig sy wil terugkeer na die politiek.

Zille se kandidatuur kom in ’n tyd dat die party erge interne woelinge beleef te midde van bewerings dat verskillende faksies hul kleim probeer afsteek.

Zille het in 2015 die leisels aan Maimane oorhandig. Haar bereidwilligheid om haarself vir die amp beskikbaar te stel, kom ook in ’n tyd dat baie mense wonder of Maimane ná die DA se kieskonferensie in 2021 steeds leier gaan wees.

Maimane het haar in die verlede geroskam oor haar uitlatings oor rassekwessies en kolonialisme op sosiale media, maar sy glo hulle sal weer kan saamwerk indien nodig.

“Ek het geen twyfel dat ons weer sal kan saamwerk nie. Ons is albei professionele mense,” het Zille gesê.

Maimane het by navraag gesê hy gaan hom nie uitlaat oor die individuele kandidate vir die pos nie.

“Die lede van die federale raad gaan besluit. Kom ons fokus eerder op die toekoms,” is al wat Maimane wou sê.

Die voorsitter van die federale raad is onder meer verantwoordelik vir die dag-tot-dagbestuur van die party. Die party se uitvoerende hoof doen onder meer verslag aan die federale voorsitter.

Sowat 150 lede van die federale raad, wat uit onder meer die nege provinsiale leiers, LP’s, LPW’s, raadslede en nie-openbare verteenwoordigers bestaan, kies die naweek van 19 en 20 Oktober die nuwe voorsitter van die federale raad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.