Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille se fluit-fluit is eers uit-uit

Helen Zille, wat in Oktober uitgedaag sal word om die pos van voorsitter van die DA se federale raad, het ingestem om ’n wag voor haar mond te plaas ná ’n versoek van John Steenhuisen, tussentydse DA-leier.

Mond gesnoer: Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad. Foto: Mlungisi Louw

Sy sal eers weer praat “oor dinge wat nie meer vandag gesê kan word nie” in ’n nuwe boek wat sy gevra is om te skryf.

Zille het skerp kritiek ontlok nadat sy Sondag op Twitter gesê het: “Daar is nou meer rassistiese wette as wat daar was onder apartheid. Alle rassistiese wette is verkeerd. Maar ’n permanente staat van slagofferskap word te hoog op die prys gestel om dit te erken.”

In ’n verklaring Dinsdag het Steenhuisen gesê Zille se vergelyking tussen vandag en destyds se rassewette is feitelik verkeerd. “Dit is nie waar nie en ek kan geen bewyse daarvan sien nie,” het Steenhuisen gesê.

Op Donderdag se DA-koukusvergadering het Steenhuisen volgens onberispelike bronne gesê Zille sal ’n “sabbatsverlof” neem wat sosiale media betref. Hy het sy misnoeë uitgespreek dat Zille se twiets oor apartheid laas Sondag die openbare gesprek oorheers het, terwyl die DA eintlik moes munt geslaan het uit sy oorwinning in die hof oor Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, oor die uitdeel van kospakkies, en Tito Mboweni se “flou begrotingsrede”.

Talle kollegas het ook ingeklim.

‘Ek sal feite daarvoor verskaf.’

John Moodey, Gautengse DA-leier en ’n mededinger van Steenhuisen vir die leiersamp, het Vrydag gesê Zille se opmerking was “onsensitief en onverdedigbaar”.

“Sy is verkeerd in haar opmerking dat Suid-Afrika nou meer rassistiese wette het as tydens apartheid. Dit is kwetsend teenoor die meerderheid Suid-Afrikaners. Sy doen skade aan sosiale saamhorigheid en bring die DA-handelsmerk in oneer.”

Mbali Ntuli, die ander uitdager om die leiersamp, sê dit is onmoontlik om te redeneer met iemand wat sê Suid-Afrika is ná 1994 meer rassisties as onder apartheid. “Dit is deels hoekom ek vir die leiersposisie staan, om mense die alternatiewe siening van die DA te gee.”

Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng, het Donderdag aan News24 gesê iemand in Zille se posisie moet stabiliteit in die party bring en nie pal in omstredenheid gehul wees nie.

Daarom sal hy in Oktober op die party se leierskonferensie teen Zille staan. “Ek stem oor baie goed met haar saam, maar vir seker nie met haar sienings oor apartheid nie.”

Zille se twiet.

’n Senior leier in die party het aan Rapport gesê Moriarty oorweeg al geruime tyd om te staan. Dié week se gebeure was bloot die laaste strooi.

“Ek glo hy het ’n goeie kans om haar te klop. Hy het jare se sake-ervaring en leierskap in die DA,” het die leiersfiguur gesê.

Die storm om Zille het heel week momentum gekry.

Ná haar aanvanklike twiet het sy Woensdag ’n klap uitgedeel na die LP Phumzile van Damme, een van haar felste kritici in die party.

Toe Zille op Twitter gevra is wat iemand soos Van Damme van haar twiets oor apartheid dink, het sy geantwoord: “Hulle ontspan en geniet die see-uitsig.”

Die twee het mekaar toe in die hare gevlieg.

Die kwessie is Donderdag op die DA-koukusvergadering op die spits gedryf waar Van Damme glo gesê het sy is nie tevrede met Steenhuisen se “swak poging” om Zille te berispe nie.

Steenhuisen het toe aangedui Zille het ingestem om haar vir ’n ruk van sosiale media te weerhou, het drie senior DA-LP’s Vrydag op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport gesê.

Hlanganani Gumbi, LP, en Khume Ramulifho, LPW van Gauteng, het op dieselfde vergadering versoek dat die twiet na die party se federale regskommissie (FLC) vir ondersoek verwys word. Ook Zille het die twiet na die FLC verwys.

“Ons wil nie hê die petalje moet so lank en uitgerek wees soos die sage oor Zille se twiets oor kolonialisme nie,” het ’n senior DA-LP en ondersteuner van Zille gesê.

Adv. Glynnis Breytenbach, voorsitter van die FLC, het Donderdag aan News24 bevestig Steenhuisen het die saak ook na die FLC verwys.

“Sy (Zille) sal moet begin verstaan haar twiets rig skade aan, maar dit lyk nie of sy tot dié besef kom nie,” sê ’n ander DA-LP.

“Ons interne peilings wys dat ons kiesers terugwen ná verlede jaar se verkiesingsramp, maar sulke openbare verskille wys net dat die party steeds verdeel is.”

Steenhuisen wou nie kommentaar lewer oor wat op die koukusvergadering gesê is nie. “Ek bespreek nie individuele gesprekke wat ek met lede van die party gehad het nie omdat dit verband hou met interne sake,” het Steenhuisen bygevoeg.

“Nodeloos om te sê is ek klaar op die rekord oor die skade wat openbare verteenwoordigers en partylede aanrig wanneer hulle interne sake op sosiale media bespreek.”

Zille, wat Donderdagaand ’n meningsartikel vir Rapport oor die kwessie onttrek het, asook ’n onderhoud oor haar twiets met Hanlie Retief, was by navraag nie bereid om te bevestig of ontken dat Steenhuisen haar stilgemaak het nie.

Sy was net bereid om te sê sy het ’n uitnodiging aanvaar om ’n boek te skryf “oor dinge wat nie meer vandag, wêreldwyd, gesê kan word nie, en ek sal feitelike bevestiging vir hierdie verklarings verskaf”.

“Ek verstaan die onus is op my om my omstrede verklarings met feite te staaf, en ek sal só maak. Net nie in die media nie. Ek weet die meeste mense lees nie boeke nie, maar ek sal daar begin, en dalk met twiets eindig. Nie andersom nie.”

Van Damme het gesê sy praat nie uit oor koukusvergaderings nie.

* In Weekliks: Tim du Plessis sê Zille moet haar blou hoed ophang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.