Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille sê Kaap het baie staatsgrond vir Cyril-huise

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se voorneme om ondersoek in te stel na mega-eiendomme in staatsbesit in Kaapstad wat vir bekostigbare behuising gebruik kan word.

Ramaphosa het Woensdag in die Nasionale Vergadering dié versekering gegee in antwoord op ’n vraag van Mmusi Maimane, leier van die amptelike opposisie.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap Foto: Peter Abrahams

Zille sê Kaapstad is besonder goed toegerus met grond wat geskik is vir wat die president as “vinnige grondvrystelling” beskryf het.

Volgens die Wes-Kaapse regering is daar vyf groot gebiede – almal in besit van die nasionale regering deur die departement van verdediging en Transnet – wat op strategiese plekke naby ekonomiese geleenthede geleë is en vir bekostigbare behuising gebruik kan word.

“Ons berekeninge dui daarop dat die grond by Culemborg, Ysterplaat, Youngsfield, Wingfield en Denel 93 817 bekostigbare behuisingseenhede kan oplewer. Dit sal ’n omwenteling bring vir stedelike grondhervorming en behuising beskikbaar stel aan bykans die helfte van die meer as 200 000 gesinne op Kaapstad se behuisingsdatabasis wat te veel verdien vir gratis behuising, maar kwalifiseer vir bekostigbare behuising,” sê Zille.

Ramaphosa het in die Nasionale Vergadering gesê hy sal graag ondersoek instel.

Zille sê in reaksie “die president blyk vreemd onbewus te wees van die mega-eiendomme waaraan sy regering aktief moet werk om dit beskikbaar te stel”.

Sy sê populistiese praatjies oor grondonteiening is dalk gerieflik, maar die debat is steriel omdat die nasionale regering op grond sit wat ’n oplossing bied vir ’n groot metro soos Kaapstad.

Zille sê sy gaan aan Ramaphosa skryf om te vra dat hulle dringend hieroor vergader.

Sy sê die Wes-Kaap het reeds ’n model ontwikkel vir bekostigbare behuising wat met kruissubsidies van sowel die staat as die private sektor sal help om die koste van dié huise te verminder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.