Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille se twiet oor rassewette ‘doen weer skade’

In ’n interne DA-ondersoek is glo bevind Helen Zille se twiets het die party wéér skade berokken. Werner Horn, adjunkvoorsitter van die DA se federale regskommissie, het die ondersoek gedoen nadat Zille op 21 Junie getwiet het: “Daar is nou meer rassistiese wette as wat daar onder apartheid was.”

Hlanganani Gumbi, LP, en Khume Ramulifho, Gautengse LPW, sowel as Zille self, het die twiet na die regskommissie verwys nadat dit hewige kritiek ontlok het.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het onder meer gesê Zille, voorsitter van die DA se federale raad, se vergelyking tussen vandag en destyds se rassewette is feitelik verkeerd. “Dit is nie waar nie en ek kan geen bewyse daarvan sien nie,” het hy gesê.

Horn se verslag oor die Zille-twiet het twee weke gelede voor die DA se federale uitvoerende raad gedien. Toe is besluit om ’n paneel aan te stel wat die verslag sal oorweeg, waarna Zille verhoor sal word.

Rapport het by twee onberispelike bronne verneem Horn se verslag is Zille nie goedgesind nie.

“Sy verslag sê Zille se twiets het die party skade aangedoen, net soos haar kolonialismetwiets in 2017,” het een van hulle Donderdag gesê.

Daar is ’n agenda hier aan die gang.
Helen Zille

Zille was in 2017, toe sy Wes-Kaapse premier was, ook in die spervuur nadat sy getwiet het die nalatenskap van kolonialisme was nie alles sleg nie. ’n Kommissie van 30 partylede het haar gedrag daarna ondersoek. Zille is toe verbied om aan enige van die DA se bedrywighede deel te neem. Sy het later in die openbaar om verskoning gevra.

’n Tweede bron beweer Zille is “baie bekommerd” oor Horn se verslag en vrees dit kan haar stemme kos op die party se virtuele federale kongres op 31 Oktober en 1 November.

Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng, wil haar onttroon om sodoende die tweede belangrikste amp in die party te kry.

Steenhuisen wou by navraag nie bevestig wat die verslag sê nie.

Al het partylede Steenhuisen, ’n groot ondersteuner van Zille, geroskam dat hy nie streng genoeg teen haar opgetree het oor haar twiets nie, het hy haar wel op 25 Junie aangeraai om “sabbatsverlof” van sosiale media te neem.

Zille was Woensdag vir die eerste keer terug op sosiale media toe sy ’n DA-meningstuk wat sy geskryf het, getwiet het. Daarin sê sy swart ekonomiese bemagtiging, “soos gekonseptualiseer en toegepas deur die ANC”, het korrupsie gewettig en dit moreel aanvaarbaar gemaak.

Toe Rapport Zille Vrydag oor Horn se verslag uitvra, het sy gewaarsku ’n mens kan net die volledige prentjie sien as jy die hele verslag lees.

“Een gelukkige ding is dat die meeste mense kan tel, en die getalle is duidelik. Daar is ’n agenda hier aan die gang. Die hele punt hoekom daar na hierdie wette gekyk word, is omdat hulle die plundermasjien geskep het wat die ANC geword het,” sê Zille.

“Dit is die oorsprong van die mislukking en kriminalisering van die staat, en die massas werkloosheid.”

Horn wou ook nie by navraag die inhoud van sy verslag bevestig nie, en sê die federale uitvoerende raad sal besluit of die verslag of dele daarvan openbaar gemaak moet word.

Horn het wel bevestig die DA-LP dr. Annelie Lotriet sal die voorsitter van die paneel wees wat oor sy verslag moet besluit en die virtuele verhoor hanteer. Hy sê ’n datum vir die verhoor word tans bepaal.

Meer oor:  Helen Zille  |  Werner Horn  |  Rasseverhoudings  |  Da  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.