Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille stap uit wetgewer ná woorde met ANC-LPW
Helen Zille, Wes-Kaapse premier, praat Donderdag in die provinsiale wetgewer. Die premiersdepartement se jaarverslag is die oggend bespreek. Foto: Malherbe Nienaber

Humeure in die Wes-Kaapse wetgewer het Donderdag behoorlik opgevlam toe vrae gestel is oor ’n hoofdirekteur van die premiersdepartement wat bedank het.

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, het Cameron Dugmore, ANC-LPW, daarvan beskuldig dat hy in kontak met dié voormalige direkteur is en dit met ’n verslaggewer van Cape Argus bespreek.

Die jaarverslag van die Wes-Kaapse premiersdepartement is die oggend in die provinsiale wetgewer bespreek.

Dugmore het gevra oor die omstandighede waarin Solange Rosa, voormalige hoofdirekteur van beleid en strategie in die departement, in 2015 bedank het en of dit buitengewoon was.

Adv. Brent Gerber, direkteur-generaal van die departement, het bevestig dat Rosa op ’n vergadering deur die premier gekritiseer is, waarna sy uitgeloop en haar bedankingsbrief ingedien het.

Volgens Dugmore word die gebeure op die vergadering in die wetgewer se gange bespreek en wou hy duidelikheid kry oor wat daartoe gelei het dat Rosa bedank het.

Cameron Dugmore, ANC-LPW, en Khaya Magaxa, ANC-LPW, het Donderdag geëis dat Helen Zille, Wes-Kaapse premier, aanmerkings in die provinsiale wetgewer terugtrek nadat sy Dugmore daarvan beskuldig het dat hy in gesprek is met ’n voormalige hoofdirekteur wat uit Zille se departement bedank het. Dugmore het vroeër gevra oor die omstandighede waarin dié hoofdirekteur ná ’n woordewisseling met Zille in 2015 bedank het. Foto: Malherbe Nienaber

Dié voorval het egter in die vorige boekjaar plaasgevind, nie die jaar wat op 31 Maart geëindig het en waaroor die jaarverslag handel nie.

Zille het toe gesê sy weet “waar hierdie kwessie vandaan kom” en dit is voor die hand liggend dat Dugmore met dié voormalige direkteur praat.

Sy het Dugmore ook daarvan beskuldig dat hy die saak “klaarblyklik” ook met ’n verslaggewer van Cape Argus in SMS’e bespreek.

Dugmore het daarop aangedring dat Zille die aantygings terugtrek en gesê dit is “verregaande en belaglik”.

Gerber het verduidelik dat Rosa ontsteld was oor kritiek deur die premier op ’n vergadering, opgestaan en die deur toegeslaan het. Met haar bedanking het sy glo gesê dit is vir haar “onaanvaarbaar om so gekritiseer te word”.

Zille het toe gesê die provinsiale regering het ’n benadering gevolg wat deur gemeenskappe se behoeftes gedryf word.

Dit was ’n “massiewe kopskuif” vir die regering en nie al die personeellede het bevredigend daarby aangepas nie.

“ ’n Voorlegging is gedoen en dié benadering is nie daarin getoon nie. Ek het kritiek daarop gelewer en dit is persoonlik opgeneem – en dit was nie die eerste keer nie.”

Adv. Brent Gerber, direkteur-generaal van die Wes-Kaapse premiersdepartement. Die departement se jaarverslag is Donderdag in die provinsiale wetgewer bespreek. Foto: Malherbe Nienaber

Dugmore het toe gevra wat die aard van die kritiek was en wat Zille gesê het omdat dit noemenswaardig is as ’n hoofdirekteur só bedank.

Zille het gesê dié saak het niks te doen het met die jaarverslag of die boekjaar wat onder bespreking is nie.

“Ek weet presies wat Dugmore wil doen en probeer hom die feite gee,” het sy gesê.

Die voormalige amptenaar was glo “uitermatig sensitief oor enige vorm van kritiek” en die verslae oor beleid waarvoor sy verantwoordelik was, was “ongelooflik gebrekkig”.

“Dit is uiters onnodig dat die beleidseenheid van ’n party met ’n strydige beleid se poste behou moet word wanneer ’n nuwe regering oorneem,” sê Zille.

“Ons kon nie toelaat dat ANC-beleid deur die beleidseenheid van ’n nuwe regering gedryf word terwyl sulke bybedoelings bestaan nie.”

Volgens Zille bewys die beweerde kontak tussen die voormalige direkteur en die ANC haar punt.

Kort daarna het Zille uit die raadsaal gestap en nie die res van die sitting bygewoon nie.

Meer oor:  Politiek  |  Wetgewer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.