Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille, Steenhuisen vol lof vir Madikizela

Wendy Philander, ’n LPW in die Wes-Kaapse wetgewer, en Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, is die groot gunstelinge om as tussentydse leier van die DA in die Wes-Kaap oor te neem – die enigste provinsie wat dié party beheer.

Die pos is vakant nadat Bonginkosi Madikizela as leier en as LUR vir vervoer bedank het ná aantygings dat hy oor sy akademiese kwalifikasies gelieg het.

Philander, wat verlede jaar in November vir Madikizela om die toppos in die Wes-Kaap uitgedaag het, het Vrydag aan Rapport bevestig dat sy deur DA-lede en -afgevaardigdes genader is om haar weer verkiesbaar te stel. “Ek gee dit tans ernstige oorweging en sal binnekort ’n aankondiging maak,” sê sy.

Wendy Philander

Die DA sal op 29 Mei op ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee ’n tussentydse leier kies wat sal diens doen tot die volgende kieskongres. Altesame 140 stemgeregtigdes, waaronder LP’s, LPW’s en raadslede, sal stemreg hê.

Die nominasies behoort môre te open.

Op verlede jaar se provinsiale kieskongres in November waar Madikizela herkies is, het Philander 255 stemme gekry teenoor Madikizela se 444 en Masizole Mnqasela, Wes-Kaapse speaker, se 210.

Rapport verneem Philander geniet die steun van talle afgevaardigdes wat naby aan John Steenhuisen, DA-leier, is.

Die minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz

Fritz, ’n vertroueling van Madikizela, is op November se provinsiale kongres as adjunkleier van die DA in die Wes-Kaap gekies. Hy neem op die oomblik as leier waar.

Twee bronne beweer hy sal sy naam ook in die hoed gooi. Fritz het nie teen druktyd op navrae gereageer nie.

Mnqasela het Vrydagaand bevestig hy gaan hom nie weer verkiesbaar stel nie, omdat hy nie glo ’n interne verkiesing moet voor die munisipale verkiesing op 27 Oktober plaasvind nie.

“Ons het ’n groter doel en dit is om al die munisipaliteite (in die Wes-Kaap) te wen op 27 Oktober,” het Mnqasela gesê.

“Ons kan dit nie bekostig om intern gefokus te wees in hierdie sta­dium nie, maar moet liewer fokus op ons klante buite (die party), ons kiesers.”

Mnqasela se voorstel – dat die DA eers ná die verkiesing ’n nuwe provinsiale leier kies – geniet wyd steun, verneem Rapport, maar ’n besluit daaroor sal eers later geneem word.

Die verkiesingstryd tussen Madikizela en Mnqasela het verlede jaar onsmaaklik geraak nadat iemand beweer het Madikizela het op ’n vergadering op 18 September by ’n hotel in Kaapstad gesê hy sal Mnqasela laat “uithaal”.

Die DA se federale regskommissie het bevind die bewerings was ongegrond.

Madikizela het Vrydag bevestig hy sal nie sy DA-lidmaatskap opskort nie en bly aan in die party.

Gevra of hy ’n terugkeer tot ’n leierspos beplan, het Madikizela geantwoord: “Dit is te vroeg om te sê; ek moet eers gewoond raak aan werkloos wees.”

Madikizela se lewensmaat, dr. Nomafrench Mbombo, het die afgelope week bedank as leier van die DA se vrouenetwerk, wat haar ex officio ’n setel in die DA se federale uitvoerende bestuur gegee het.

Mbombo bly aan as LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap en sê haar besluit is geneem omdat daar baie druk op haar is weens Covid-19.

Ingeligtes beweer die besluit is in solidariteit met Madikizela geneem.

Dr. Arlene Adams, ’n raadslid in Kaapstad en adjunkleier van die vrouenetwerk, neem nou as tussentydse leier waar.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Madikizela op Facebook geprys en gesê: “Hy het die standaard gestel om persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar, aanspreeklik op te tree en om daadwerklike stappe te doen.

“Hy het teruggetree sonder om die rassekaart te speel of om die party se naam sleg te maak. Dit maak hom uniek onder Suid-Afrikaanse politici en hy sal my blywende respek hê.”

Steenhuisen het gister gesê hy glo Madikizela sal terugkeer tot ’n verkose pos in die DA.

Meer oor:  Da  |  Albert Fritz  |  Bonginkosi Madikizela  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.