Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille ‘talentvol en ervare’ op keuringspaneel

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, is ’n “uiters ervare en talentvolle” openbare verteenwoordiger van die DA.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het Dinsdag só gereageer toe hy uitgevra is oor waarom Zille – ondanks die feit dat sy uit die party se aktiwiteite geskors is – deel is van die Wes-Kaapse paneel wat voornemende LPP’s en LP’s moet keur.

“Dit hang af of dit ’n party-aktiwiteit is of nie,” het Selfe geantwoord.

Helen Zille Foto: Peter Abrahams

“Hierdie is ’n uiters ervare en talentvolle openbare verteenwoordiger van die DA met baie jare se ervaring. Sy is iemand wat reuse-waarde kan toevoeg in die objektiewe ontleding van kandidate wat openbare verteenwoordigers wil word. Dit is ’n baie gespesialiseerde taak,” het Selfe gesê.

Die besluit om Zille by die keuringspaneel in te sluit het luidens berigte die wenkbroue van sekere DA-lede laat lig omdat hulle glo dat dit teenstrydig met haar skorsing is.

Zille is in Junie verlede jaar van party-aktiwiteite geskors nadat sy sekere aspekte van kolonialisme op Twitter verdedig het. Sy het later om verskoning gevra daarvoor.

Sy is een van nege Wes-Kaapse DA-lede wat deur die provinsiale leierskap benoem is om op die keuringspaneel te dien. Die paneel is deur die federale uitvoerende raad goedgekeur. Elke provinsie het só ’n keuringspaneel benoem wat kandidate moet kies om die DA ná die 2019-verkiesing in die provinsiale wetgewers, sowel as die nasionale parlement, te verteenwoordig.

Die streng keuringsproses is geskeduleer om in Oktober te begin.

Selfe het verduidelik dat benewens ’n onderhoud wat met die aspirantkandidate gevoer word, hulle onder meer ’n onvoorbereide toespraak aan die paneel moet lewer en onvoorbereid op vrae moet reageer.

“As ’n lid van die keuringspaneel ontleed jy die reaksies. Dit word so objektief as moontlik gedoen en wigte en teenwigte is in die proses ingebou om voortrekkery te voorkom,” het hy gesê.

Intussen het die party regsadvies ingewin nadat ’n twis ontstaan het oor die uitsluiting van provinsiale leiers op die keuringspanele. Dít nadat Mmusi Maimane, DA-leier, aangekondig het dat provinsiale leiers nie meer deel gaan wees daarvan nie. Sommige partylede meen die insluiting van dié leiers op die keuringspanele is teenstrydig met die party se grondwet.

Meer oor:  Da  |  Helen Zille  |  James Selfe  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.