Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille weer in sop oor ‘omstrede’ twiet

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad en voormalige Wes-Kaapse premier, bevind haar weer midde-in ’n herrie oor nóg ’n omstrede twiet.

In die nuutste sage het Zille Sondag ’n spotprent van die spotprent-kunstenaar Jeremy (Jerm) Nell op haar Twitter-rekening gedeel en daarby geskryf: “Dit vang gepas die wanbegrip en rassisme agter ras-veralgemenings vas”.

Die spotprent bestaan uit vier afsonderlike sketse waarin twee karakters – een ’n swart man in EFF-gewaad en die ander ’n wit man – met mekaar praat.

In die eerste sê die swart man aan die wit man: “Jy moet die grond teruggee wat jy gesteel het”.

In die tweede antwoord die wit karakter: “Jy moet tronk toe gaan omdat jy my vrou verkrag het”.

In die derde skets antwoord die swart karakter: “Maar ek het dít nie gedoen nie”.

Die wit karakter sê dan: “Presies”.

Talle Twitter-gebruikers het in reaksie vir Zille onder meer daarvan beskuldig dat sy verdelend en rassisties is, die stereotipe bevorder dat swart mans verkragters is en dat sy besig is om die DA te vernietig.

Godrich Gardee, voormalige sekretaris-generaal van die EFF, het in reaksie onder meer getwiet: Soos wit mense grond in 1652 gesteel het, bedoel jy nou dat wit vroue deur alle swart mans verkrag is ... Jy is iets anders.”

Nog ’n Twitter-gebruiker genaamd Amanda Reekie wou onder meer weet hoe Zille se twiet die DA en die land help.

’n Ander Twitter-gebruiker genaamd Ndlunkulu XOLI het getwiet dat “dit sulke gedagtes is wat ’n groot afname in die aantal DA-kiesers veroorsaak het”. “Lol, julle kan vir Mmusi (Maimane, voormalige DA-leier) blameer soos julle wil, maar Helen, hulle sal nie vir jou vertel nie. Jy is die probleem. Dit is in elk geval soveel pret om te kyk hoe jy die klein DA wat jy nog oor het, vernietig. Goeie werk, Ouma.”

Zille het Maandag in reaksie op die Twitter-woede oor haar twiet gesê: “Die spotprent is satire en die punt wat dit maak, is duidelik: Veralgemening op grond van ras is verkeerd en haatlik.

“Elke persoon in die spotprent beskuldig die ander op grond van sy ras van ’n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie. Dat dít verkeerd is, is vanselfsprekend.”

Sy het bygevoeg dat niemand kon verstaan wat sy met haar aanvanklike twiet bedoel het nie, “omdat my ontleding van die spotprent gewys het dat dit haatlik en verkeerd is. So enigiemand wat beweer dat ek dit nie so bedoel het nie, het my opsetlik verkeerd voorgestel.

“Dit is onmoontlik om nie te verstaan wat ek gesê het nie tensy daar ’n doelbewuste bedoeling daarmee is.”

Volgens Zille ontbloot en takel die spotprent juis die stereotipes waarvan sy in reaksies op haar aanvanklike twiet beskuldig word.

“Die uiteindelike punt van die spotprent en ek wat dit gedeel het, wys dat hierdie stereotipes verkeerd is. Elke persoon moet daardie punt begryp tensy hulle ander agendas het,” het Zille gesê.

Nell het die reaksie op Zille se twiet op sy blog as “gefabriseerde woede” beskryf.

“Ek gaan nie die spotprent verduidelik nie. Dit is vanselfsprekend dat die spotprent die spot dryf met die absurditeit van kollektivistiese groepdenke en Helen het dit reg vertolk as ’n verwerping van veralgemenings rondom ras. In kort, moet my nie valslik beskuldig van iets wat ek nie gedoen het nie. Nieteenstaande het die regressiewe rasbehepte denkpolisie vuisswaaiend ingeklim,” het Nell geskryf. 

Zille, wat onlangs weer haar terugkeer tot DA-hoofstroompolitiek gemaak het, is vroeër onder Maimane se leierskap uit alle partyverwante bedrywighede geskors weens omstrede twiets oor kolonialisme.

Meer oor:  Helen Zille  |  Spotprent  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.