Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zim-vlug: President wil eers verslag bekyk

Pres. Cyril Ramaphosa sal eers die verslag oor die omstrede vlug na Zimbabwe oorweeg voordat die presidensie kommentaar gaan lewer.

Só het Tyrone Seale, woordvoerder van die president, Maandag by navraag gesê nadat Ramaphosa ’n verslag van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, ontvang het oor die omstandighede wat daartoe gelei het dat ’n senior ANC-afvaardiging verlede week saam met haar in ’n lugmagvliegtuig Harare toe is.

Ramaphosa het Mapisa-Nqakula Vrydagaand gevra om binne 48 uur aan hom ’n gedetailleerde verslag te gee oor hoe dit gebeur het.

Dit was nadat ’n herrie losgebars het omdat die ANC-afvaardiging in ’n lugmagvliegtuig vir samesprekings met die regerende Zanu-PF-party in Zimbabwe oor die politieke en ekonomiese krisis in dié land na Harare gevlieg het.

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging, het Maandag op sy beurt in ’n verklaring gesê dit is in die belang van deursigtigheid belangrik dat die verslag vir ’n noukeurige openbare en parlementêre ondersoek uitgereik word.

“Daar kan nie toegelaat word dat die verslag in die president se kantoor lê en stof vergaar in ’n poging om Suid-Afrikaners te laat vergeet dat dié flagrante misbruik van staatshulpbronne gebeur het nie.”

Marais het gesê dit is ook kommerwekkend dat die Covid-19-inperkingsregulasies waarskynlik oortree is.

Die foto wat die ANC in die moeilikheid laat beland het. Nosiviwe Mapisa-Nqakula (links), minister van verdediging en militêre veterane, word verlede week in Harare welkom geheet deur haar Zimbabwiese ampsgenoot, Oppah Muchinguri-Kashiri. ’n ANC-afvaardiging het saam met haar gevlieg. Foto: The Herald

Kenners en opposisiepartye het die ANC daarvan beskuldig dat hy nie tussen staat en party onderskei nie. Hulle dring daarop aan dat die ANC die koste van die vlug betaal.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het die afvaardiging gelei.

Drie ministers, Mapisa-Nqakula, wat op ’n amptelike besoek aan Zimbabwe was om met haar ampsgenoot, Oppah Muchinguri-Kashiri, bilaterale gesprekke te voer, Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, en Lindiwe Zulu, ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, was lede van die ANC-afvaardiging.

Ramaphosa het dit benadruk dat Mapisa-Nqakula toestemming vir haar amptelike besoek gehad het.

Intussen is die departement van binnelandse sake ook besig met ’n ondersoek na die moontlike oortreding van die inperingsregulasies. Dit is omdat nie almal ná die groep se terugkeer Donderdag op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria in isolasie gegaan het nie.

Ramaphosa het Vrydagaand gesê hy verwelkom die belangstelling wat Suid-Afrikaners in dié kwessie toon. “Dit is ’n aanduiding van die nasie se waaksaamheid oor bewerings van die onbehoorlike gebruik van openbare hulpbronne.”

Julius Malema, leier van die EFF, het Maandagoggend by die landdroshof in Randburg, Johannesburg, gesê hy het geen beswaar dat ’n ANC-afvaardiging Zimbabwe toe is om iets aan die krisis in daardie land te doen. “Maar ek het ’n probleem daarmee dat hulle dit met ’n staatsvliegtuig gedoen het. Dit was onverantwoordelik. Daar moet ’n rekening na die ANC gestuur word.”

Malema en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het in die landdroshof op ’n aanklag van aanranding verskyn.

Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê as Ramaphosa wil hê Suid-Afrkaners moet hom ernstig neem oor sake wat te make met die vermorsing van staatsbronne, is streng korrektiewe optrede en verantwoordbaarheidsmaatreëls ?nodig teen kabinetslede wat oortree.

Meer oor:  Politiek  |  Harare-Vlug  |  Anc  |  Zim-Vlug  |  Vlug Na Zim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.