Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zindzi Mandela se termyn straks nie hernu

Zindzi Mandela se termyn as ambassadeur in Denemarke verstryk einde Junie en sy weet waarskynlik reeds dat sy nie vir nog ’n termyn in die pos oorweeg word nie.

Zindzi Mandela, Nelson Mandela se dogter, by die BAFTA-toekennings waar sy die prys aan Idris Elba oorhandig het. Foto: Phil McCarten/Reuters

“Dis waarom sy verlede week roekeloos genoeg was om die uitlatings op Twitter te maak waarin sy mense beledig oor hul velkleur,” het ’n ervare oudambassadeur die afgelope week gesê.

Mandela se uitlatings is volgens dié ouddiplomaat van die ergste misstappe wat ’n ambassadeur kan begaan. “Dis op dieselfde vlak as die uitlatings van Joseph Nkosi, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Venezuela, wat in April verlede jaar gedreig het dat Suid-Afrika troepe sal stuur om Venezuela teen Amerika te verdedig,” het dié oudambassadeur gesê.

Nkosi het die uitlatings gemaak op ’n diplomatieke plegtigheid om oudpres. Nelson Mandela te vereer.

Hy is nie deur die destydse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lindiwe Sisulu, tereggewys nie.

Die direkteur-generaal van interna­sionale betrekkinge, Kgabo Mahoai, het egter in ’n sterk bewoorde brief aan Nkosi geëis dat hy dié dreigement terugtrek “omdat dit nie regeringsbeleid is nie”, het sy kantoor destyds gesê.

Nkosi het sy opmerkings toe teruggetrek.

Dr. Naledi Pandor, die nuwe minister van openbare betrekkinge en samewerking, wat Zindzi Mandela Dinsdagaand aangespreek het oor die Twittergeveg waarin sy die vorige Vrydag met verskeie wit Suid-Afrikaners betrokke geraak het, het bevestig Mandela se termyn as ambassadeur in Denemarke verstryk binnekort.

“Die korrespondensie daaroor is op my lessenaar. Dit is egter die president wat ambassadeurs aanstel – nie ek nie,” het sy geantwoord.

Die korrespondensie daaroor is op my lessenaar. Dit is egter die president wat ambassadeurs aanstel – nie ek nie.
Dr. Naledi Pandor

Pandor het aan Rapport gesê Mandela se uitlatings op Twitter was onvanpas vir ’n ambassadeur. Sy gaan dit met Mahoai bespreek om te besluit of nóg stappe teen Mandela nodig is.

Mandela het haar termyn in Junie 2015 in Kopenhagen begin. ’n Ambassadeur se ampstermyn duur vier jaar, maar kan vir nog vier jaar hernu word. Ná agt jaar word ’n suksesvolle ambassadeur gewoonlik na ’n nuwe standplaas gestuur.

Mandela het onder meer geskryf wit Suid-Afrikaners is “gronddiewe” en “apartheidsapologete” wat net soos “ongenooide gaste . . . weier om te loop”. Sy het bygevoeg dat wit mense ’n fout maak deur vas te klou aan “fantasieë van die goeie inboorling” (good native fantasies) en dat dit tyd is dat swart Suid-Afrikaners “hul grond” terugvat.

“Whilst I dine and wine here . . . wondering how the world of shivering land thieves is doing,” het sy ook geskryf.

Haar uitbarsting het verlede Vrydag om 16:40 begin met die woorde: “Dear Apartheid Apologists, your time is over. You will not rule again. We do not fear you. Finally #TheLandIsOurs.”

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Naledi Pandor  |  Denemarke  |  Ambassadeur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.