Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zindzi se termyn verleng, al trek sy weer los op Twitter

Zindzi Mandela se ambassadeurstermyn sou einde Junie verstryk, maar is nou tot einde Desember verleng sodat pres. Cyril Rama-phosa tyd het om te besluit wat om met haar en verskeie ander ambassadeurs te doen wie se termyne ook in Junie verstryk het.

Zindzi Mandela Foto: ARGIEF

“Alle termyne wat einde Junie ten einde geloop het, is nou tot einde Desember verleng omdat daar nie in die voorafgaande maande daaraan aandag gegee kon word nie weens die verkiesing,” sê Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking.

Mandela, wat in Junie 2015 ambassadeur in Denemarke geword het, is twee weke gelede deur Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, oor die kole gehaal oor onvanpaste uitlatings op Twitter. Sy het wit Suid-Afrikaners onder meer bestempel as “verkragter-afstammelinge van Van Riebeck” (sic) en “sidderende gronddiewe”.

Ná die teregwysing deur Pandor het sy volgehou met twiets met die hutsmerk #OurLand en onlangs ook #Asijiki, wat deur die EFF gebruik word vir sy grondbesettingsveldtog.

Aanvanklik was haar twiets meer besadig. Maar Donderdag en Vrydag het sy weer losgetrek met uitlatings wat niemand van die ambassadeur van ’n veelrassige land sal verwag nie. Sy was veral snedig oor twitterati wat gewys het op die versoeningsrol wat haar pa gespeel het. “Jy met jou Jesus-kompleks, kom asseblief van die kruis af en kom reguit na my toe, moenie jou apostels stuur nie,” was haar reaksie.

Die joernalis en kommentator Max du Preez het haar uitgedaag: “Ambassadeur, doen die eerbare ding. Kom terug huis toe en trek ’n rooi oorpak aan – jy kan dit deur ’n ontwerper laat maak.”

Waarop Mandela teruggekap het: “Het ek dalk aan jou ateljee geraak, baas?”

Mandela maak geen geheim daarvan dat sy haar by die EFF skaar nie. Sy hertwiet dikwels boodskappe deur die EFF en sê in een van haar twiets dat sy probeer om die EFF-leier, Julius Malema, na Kopenhagen te bring op uitnodiging van ’n maatskappy wat ’n Suid-Afrikaanse ekspo in die Deense hoofstad wil aanbied.

By ’n hertwiet van ’n video waarin Malema teen die media uitvaar, sê sy dit is lankal tyd dat ’n waarheid-en-versoeningskommissie vir die media gehou word.

“Ons weet wie julle is, maar nogtans verwelkom ons billike prosesse,” twiet sy.

Rapport het Monyela gevra of Pandor van die jongste twiets weet en of sy enige reaksie daarop het, maar Monyela het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Intussen weerhou die Nelson Mandela-stigting hom steeds van kritiek teen Mandela. Ná haar oorspronklike tirade op 14 Junie het die stigting se kommunikasiebestuurder, Luzuko Koti, by navraag aan Rapport gesê dat hulle graag met Mandela in gesprek wil tree oor haar sienings.

’n Paar dae later het Koti egter aan The Star ontken dat die stigting ooit gesê het hulle wil met Mandela vergader.

Eers toe Rapport die klankgreep uitreik waarin Koti gesê het die stigting wil met Mandela vergader, het Lee Davies, die stigting se woordvoerder, erken dat hulle wel met Mandela wou vergader, maar dat hulle spyt was dat dit kon lyk of hulle Mandela uit Denemarke wou ontbied het.

Volgens Davies het die openbare diskoers oor Mandela se twiets “weer die hardnekkigheid uitgelig van wit heerskappy, die wonde van die verlede wat nog nie gesond is nie, die stilstaande grondhervormingsplan en die groter mislukking van transformasie in die postapartheidsera”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.