Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zoeloe-koning, AfriForum staan nou saam oor grond

Koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes, wat uitgesproke is oor sy teenkanting van grondonteiening sonder vergoeding, en die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n vennootskap gesluit.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie op die koning se aankondiging op Twitter gesê hy sien uit daarna om saam met “Zwelithini en die Zoeloe-mense op grond van wedersydse erkenning en respek” te werk.

Koning Goodwill Zwelithini. Foto: Jabulani Langa/DAILY SUN

Volgens ’n eNCA-verslag is Zwelithini net so gekant teen grondonteiening sonder vergoeding soos AfriForum.

“Die Zoeloe-nasie sal nie bestaan as ons nie kos het nie. Dit is hoekom ek sê die boere moet nader staan sodat ons gesprekke kan voer oor landbou en die beskikbaarheid van genoeg kos in die land,” het hy Sondag op die jaarlikse Umkhosi weLembe-herdenking van koning Shaka gesê.

Zwelithini het mense aangespoor om teen onteiening in die 2019-verkiesing te stem.

“Ek het vir julle in Julie gesê om te gaan bid dat God almal onder mekaar moet laat baklei wat teen my en julle oor die grondkwessie staan.

“Ook nou stuur ek julle om te gaan bid voor die verkiesing volgende jaar.”

Netwerk24 het onlangs berig Kriel het Zwelithini se verjaardagpartytjie in die Enyokeni-paleis in Nongoma, KwaZulu-Natal, bygewoon.

Kriel het ook al in ’n rubriek gesê dié verhouding is goed vir Suid-Afrika.

Zwelithini het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die versekering te gee dat die Ingonyama-trust se grond, altesaam drie miljoen hektaar, nie aan grondonteiening onderwerp sal word nie.

“Ramaphosa moet hierheen kom en dit sê, ’n ooreenkoms opstel en onderteken dat daar nie aan die Zoeloes se grond geraak sal word nie,” het die koning in sy toespraak gesê.

  • Die grondwethersieningskomitee het vroeër vanjaar oor die land heen openbare sittings gehou oor grondonteiening sonder vergoeding met die oog daarop om die Grondwet te verander.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.