Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Anoj Singh probeer ondervraging weer ontglip

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, gaan wéér probeer om sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping uitgestel te kry.

Singh is in Desember gedagvaar om op 13 Januarie voor die kommissie te getuig maar het daarin geslaag om die dagvaarding tersyde te laat stel omdat die bewoording daarvan foutief was.

In die dagvaarding is aangedui dat hy ondervra sou word op grond van ’n beëdigde verklaring, maar Singh het in daardie stadium nog nie so ’n verklaring by die kommissie ingedien nie.

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, wil uitstel vir sy getuienis voor die Zondo-kommissie vra. Foto: Argief

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het Vrydag aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê Singh se regspan wil ’n aansoek bring dat sy getuienis, wat op Woensdag 3 Maart aangehoor moet word, uitgestel word.

Ná die foutiewe dagvaarding in Januarie is ’n dagvaarding wéér uitgereik – dié keer dat Singh Woensdag verskyn. Sy regspan wil weet of hulle by die sitting argumente oor die uitstel van sy getuienis moet kom lewer.

Zondo het gesê die aansoek sal dié week hanteer word.

Een van die bewerings teen Singh is dat hy saam met die Guptas gewerk het om Eskom te kaap. ’n Veiligheidswag het voor die kommissie getuig dat hy by die Guptas se huis in Saxonwold teenwoordig was toe geld aan Singh asook aan Brian Molefe, voormalige uitvoerende hof van Eskom, gegee is.

Singh is in 2015 gesekondeer om van Transnet na Eskom te skuif. Die kommissie het voorheen getuienis aangehoor dat die Guptas in daardie stadium hul oog op Eskom-kontrakte gehad het nadat hulle Transnet klaar gestroop het.

Volgens getuienis is Singh en Molefe na Eskom geskuif sodat hulle kon help om die deur vir die Guptas

daar oop te maak.

Zondo het Seleka Vrydag gevra wie die komende week op die lys van getuies is, en wanneer Lynne Brown, oudminister van openbare ondernemings, sal getuig.

Seleka het geantwoord dat Eskom-getuies van Maandag tot Donderdag geroep sal word, maar dat Brown nié op die lys is nie.

Bewerings is voor die kommissie gemaak dat Brown saam met die Guptas gewerk en onder meer by die samestelling van die Eskom-direksie se onderskeie komitees ingemeng het.

Volgens getuienis het sy ook ingemeng toe vier bestuurslede van Eskom geskors is – ’n stap wat die weg gebaan het dat Molefe as uitvoerende hoof en Singh as finansiële hoof aangestel kon word.

Molefe is op die lys van getuies wat Dinsdag voor die kommissie moet verskyn.

Meer oor:  Eskom  |  Anoj Singh  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.