Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo bedank fluitjieblaser Vytjie

Die kruisondervraging van Vytjie Mentor, voormalige ANC-parlementslid en fluitjieblaser oor staatskaping, het laat Dinsdagmiddag in Johannesburg voor die Zondo-kommissie van ondersoek tot ’n einde gekom.

Vytjie Mentor waar sy Dinsdag in Johannesburg voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.Foto: Felix Dlangamandla

Mentor het aan die einde van haar getuienis gesê dit was nie ’n maklike pad om te stap nie, maar sy is dankbaar sy kon ’n rol as fluitjieblaser speel.

Adjunkhoofregter Raymand Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê hy sal teen die einde van die proses besluit watter van Mentor se getuienis hy sal aanvaar en wat hy sal verwerp.

Hy het Mentor bedank dat sy bereid was om voor die kommissie te kom getuig. Die regter sê hy hoop ander sal haar voorbeeld volg.

Mentor beweer sy is deur die omstrede Gupta-familie in hul huis in Saxonwold, Johannesburg, ’n kabinetspos aangebied toe sy onder die indruk was sy is daarheen genooi vir ’n afspraak met oudpres. Jacob Zuma.

Zuma was ook teenwoordig toe die Guptas dié aanbod aan haar gemaak het, het sy getuig.

Die Guptas het haar glo die pos as minister van openbare ondernemings aangebied in ruil daarvoor dat sy in dié amp die SAL se vlugroete na Indië sou kanselleer.

Afspraak met Zuma

Mentor het in haar kruisondervraging Dinsdag volgehou sy is oortuig daarvan Lakela Kaunda, ’n jarelange vertroueling van Zuma, het haar op ’n Sondagaand in Oktober 2010 gebel om die afspraak met Zuma te maak.

Henry Cowley SC, Kaunda se regsverteenwoordiger, het aan die kommissie gesê Kaunda ontken dit.

Mentor het getuig sy het Kaunda se telefoonnommer by Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, gekry.

Hoewel hulle mekaar nie geken het nie, het hulle per SMS met mekaar gekommunikeer om die afspraak met Zuma te reël, het Mentor voor die kommissie getuig.

“Ek is oortuig daarvan dat dit sy was wat my gebel het,” het Mentor getuig.

In 2008 gewaarsku

Die kommissie het ook gehoor dat Mentor die parlementêre komitee oor intelligensie in 2008 al gewaarsku het dat die doen en late van die Guptas ondersoek moet word. In 2010, ná die besoek aan Saxonwold, het sy aan lede van dié komitee gesê die Guptas het haar ’n kabinetspos aangebied.

Mentor is ook lank onder kruisverhoor geneem deur adv. Vincent Siwela, vir adv. Mandla Mtolo, wat volgens Mentor gesê het ’n klag wat sy (Mentor) teen Zuma ingedien het, sou nie ondersoek word as sy nie Zuma se naam van die klagstaat verwyder nie.

Meer oor:  Vytjie Mentor  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.