Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Booysen verwerp verklarings teen hom

Drie verklarings met enkele sinne wat sy naam noem, vorm die grondslag van die saak teen genl. Johan Booysen, voormalige Valke-hoof in KwaZulu-Natal, oor die Cato Manor-moordbende.

Dít is wat Booysen self Woensdag in Johannesburg voor die kommissie van ondersoek na staatskaping, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, getuig het.

Die polisie se eenheid vir misdaadintelligensie het hom in hegtenis geneem nadat die Sunday Times in 2011 na bewering valslik beweer het dat Booysen, as hoof van die Cato Manor-eenheid teen geweldsmisdaad, mense onwettig doodgemaak het.

Genl.maj. Johan Booysen Foto: Felix Dlangamandla.

Booysen, wat in 2016 uit die polisie getree het, staan steeds saam met 26 lede van dié eenheid tereg op 116 aanklagte van moord en poging tot moord. Die saak is al verskeie kere uitgestel.

Booysen het Woensdag getuig hy het destyds gekyk na die dossier van die saak.

Uit die sowat 70 beëdigde verklarings daarin word sy naam in net drie genoem, sê Booysen. Daarin is daar net kortliks na hom verwys.

Hy voer aan een van die verklarings wat teen hom gemaak is, is gemaak deur iemand wat tereggestaan het op ’n aanklag van moord. Nog ’n verklaring is deur ’n eertydse vriend van hom, met vae bewerings daarin. Dit was nie onderteken nie. Die derde verklaring is onsamehangend en onbetroubaar, beweer Booysen.

“Ek werk al meer as dertig jaar met aanklaers in die reg en ek kan nie dink dat hulle my weens so min bewyse wou vervolg nie,” sê Booysen.

Hy het ook getuig oor korrupsie in strukture van die regstelsel en die polisie in KwaZulu-Natal.

In 2010 was hy betrokke by ’n ondersoek wat handel oor korrupsie ter waarde van R60 miljoen waarby die Durbanse sakeman Toshan Panday, asook kol. Navin Madhoe, betrek word.

Die saak sloer sedertdien.

Ten spyte van oorweldigende bewyse teen Panday en Madhoe het die destydse waarnemende provinsiale direkteur van openbare vervolging, adv. Moipane Noko, besluit om hulle nie te vervolg nie, het Booysen getuig.

Madhoe is in hegtenis geneem nadat hy in ’n beplande operasie deur die Valke omkoopgeld aan Booysen betaal het.

Hy het ook getuig oor die stroping van die “geheime diensterekening” van die staat wat gebruik moet word om geheime operasies teen georganiseerde misdaad te befonds.

Volgens hom was daar ’n ondersoek na dié ongerymdhede en lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, se betrokkenheid daarby.

Booysen se vriend, brig. Simon Madonsela, wat die saak ondersoek het, het hom glo toegelaat om notas te neem van ooggetuies se beëdigde verklarings. Van hulle het Mdluli geïmpliseer.

Volgens Booysen het Madonsela ná ’n hofaansoek toegang tot belangrike dokumente gekry. Die verklarings waarin Mdluli geïmpliseer is, was egter weg. Booysen beweer Riah Phiyega, wat in 2015 as nasionale polisiekommissaris geskors is, het die opdrag gegee dat dit verwyder moet word.

Verder beweer hy dit was Godfrey Lebeya, deesdae nasionale hoof van die Valke, wat dít destyds aan Madonsela bevestig het.

Die saak word nou deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek.

Die volgende sitting van die kommissie is op 2 Mei wanneer Booysen sy getuienis sal voortsit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.