Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: De Wee verwerp aantygings oor Bosasa-geld
Dr. Khotso de Wee Foto: Argief

’n Voormalige senior staatsamptenaar en sekretaris van die Zondo-kommissie hou vol dat hy nie geld van Bosasa ontvang het nie en dat die aantygings teen hom op hoorsê berus.

Dr. Khotso de Wee, voormalige bedryfshoof van die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling, het Vrydag meer as twee jaar nadat aantygings van korrupsie teen hom gemaak is, die kans gekry om sy saak aan die kommissie van ondersoek na staatskaping te stel.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het al in Januarie 2019 voor die kommissie getuig dat De Wee een van die mense was wat betalings ontvang het vir ’n tender wat in 2008 aan Sondolo IT, deel van die Bosasa-groep, toegestaan is. Tot soveel as R15 miljoen is glo aan dié mense betaal, wat staatsamptenare insluit.

Die departement, nou bekend as die departement van justisie en korrektiewe dienste, het ’n tender geadverteer om veiligheidstelsels by howe landwyd te installeer.

Teen die tyd dat die aantygings teen De Wee rugbaar geword het, was hy reeds as sekretaris van die kommissie aangestel. Hy het destyds besluit om terug te staan uit dié pos sodat hy nie van inmenging beskuldig kon word nie.

De Wee sê die aantygings teen hom is “pynlik” vir hom en sy familie. Sy twee susters is verlede jaar kort ná mekaar dood “sonder ’n bevredigende antwoord oor dié groot diefstal”.

Agrizzi het destyds getuig dat hy geld aan die politieke tussenganger Sesinyi Seopela betaal het en by hom gehoor het dat De Wee een van die mense is wat die geld ontvang.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het daarop gewys dat Agrizzi nie persoonlike kennis het dat De Wee geld ontvang het nie en geen ander inligting het as wat Seopela aan hom gesê het nie.

De Wee het in ’n verklaring wat hy aan die kommissie voorgelees het, ontken dat hy geld van Seopela ontvang het of bewus was dat Seopela geld van Agrizzi ontvang het. Hy ontken dat Seopela enige rede sou hê om sy naam te noem of dat hy (De Wee) “ontsteld” oor Agrizzi se optrede was toe hy glo “een keer laat betaling ontvang het”.

“Ek ontken dat ek by enige wanoptrede betrokke was, of dit deur Agrizzi genoem is of andersins. Die aantygings het ernstige skade aan my aansien berokken en ek sit al vir twee jaar met die probleem.”

Volgens De Wee het hy Seopela waarskynlik in die 1990’s in hul dae in die studentebeweging ontmoet, waarna hulle eers omstreeks 2010 of later mekaar weer gesien het. Hy sê hulle het nooit oor veiligheidsdienste of sake in verband met Bosasa gepraat nie en hy het eers later uitgevind dat Seopela ’n konsultant vir Bosasa was.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Argief

“Hy ken my beroepsetiek en het nie eens probeer om my te oortuig oor Bosasa nie, want ek sou sulke pogings verwerp het.”

Zondo het genoem dat die kommissie geen samewerking van Seopela ontvang het om Agrizzi se getuienis te bevestig nie.

Agrizzi het in 2019 in ’n beëdigde verklaring beweer dat Seopela senior personeel van Bosasa en senior regeringslui op oorsese besoeke en vergaderings vergesel het, waar hy glo voorstelle gemaak het oor hoe Bosasa by tenders kan baat vind.

Volgens Agrizzi het hy eers van 2009 af betalings aan Seopela begin maak, hoewel hy nie ’n “omvattende lys” verskaf het van wie almal geld ontvang het en hoeveel nie.

Geld is na bewering van 2008 tot 2016 op ’n maandelikse grondslag aan Seopela oorhandig. Die bedrae het neergekom op 2,5% van alle betalings wat die departement gemaak het.

Verder het Agrizzi gesê sover hy bewus is, het De Wee te alle tye vir Sondolo IT ondersteun en het hy ’n moeilike verhouding met die direkteur van justisie en konstitusionele ontwikkeling gehad, wat glo die aanstelling van Bosasa-maatskappye teengestaan het.

De Wee het verduidelik toe hy as bedryfshoof aangestel is, was dié pos nog nuut in die regering. Hy was voorheen die direkteur-generaal (DG) van die Vrystaatse regering.

Een van sy verantwoordelikhede was om die direktoraat wat vir veiligheid by howe moet sorg, saam te smelt met die direktoraat vir risikobestuur.

In enkele gevalle het De Wee ook as voorsitter gedien van die bodevalueringskomitee vir tenders. Hy het benadruk dat hy gewoonlik nie betrokke was by verkrygings vir die departement nie.

’n Kontrak is in 2009 met Sondolo IT gesluit om aanvanklik veiligheidsdienste aan 127 howe te lewer, met kringtelevisiekameras, alarms en toegangsbeheer.

Dié werk sou altesaam meer as R600 miljoen beloop, maar dit is om verskeie redes vertraag en uiteindelik het 32 van die howe nie verbeterings ontvang nie. Daar was uiteindelik bykomende koste van R177 miljoen, glo gedeeltelik as gevolg van inflasie.

Ek ontken dat ek by enige wanoptrede betrokke was, of dit deur Agrizzi genoem is of andersins. Die aantygings het ernstige skade aan my aansien berokken en ek sit al vir twee jaar met die probleem.

Zondo het aan De Wee gesê die departement behoort teen 2011 al geweet het van aantygings van korrupsie teen Bosasa.

De Wee het gesê hoewel daar kommer onder departemente oor die aantygings was, het hulle nie “regsgronde” gehad om teen Bosasa op te tree nie.

Hy het aangevoer dat dit nie billik sou wees om ’n tender nie toe te staan nie weens aantygings wat in die media verskyn het omdat die media “ook foute maak”.

Zondo het in reaksie gevra of die departement nie ten minste moes oorweeg het of die aantygings van korrupsie waar kon wees nie.

De Wee het geantwoord dat as amptenare toe geweet het wat hulle nou weet, sou sake waarskynlik heel anders daar uitgesien het.

• Kyk die volle uitsending hier.


Meer oor:  Bosasa  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.