Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Des ‘gee tender-opdragte’ voor hy minister word

Des van Rooyen, wat op 9 Desember 2015 onverwags deur oudpres. Jacob Zuma as minister van finansies aangestel is, het sewe dae voor dié omstrede stap opdragte by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gegee oor maatskappye wat tenders móét kry.

Dr. Masimba Dahwa, afgedankte verkrygingshoof van die SAL, het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek getuig dat hy op 2 Desember 2015 onverwags dringend na ’n vergadering ontbied is. Op die vergadering het Van Rooyen homself voorgestel.

Dr. Masimba Dahwa, afgedankte verkrygingshoof van die SAL.Foto: Skermgreep

Hy het Dahwa dadelik aangeval en gesê hy is nie gelukkig met hom nie, want hy antwoord nie op e-pos nie. Dahwa het geantwoord hy kan nie onthou dat hy sodanige e-pos gekry het nie.

Van Rooyen het toe gesê hy wil praat oor tenders vir die Umkhonto we Sizwe Veterans Association (MKVA) – die een tender is vir veiligheidsdienste en die ander is vir die Amadeus-kontrak waarvoor ’n BEE-vennoot nodig was.

Dahwa het Vrydag getuig hy het geantwoord SAL het nie ’n veiligheidstender beskikbaar nie. Van Rooyen het gesê hy soek nie verskonings nie, bloot dat die tenders na MKVA gaan.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie, sê ’n besigheidskaartjie wat Van Rooyen as deel van ’n e-pos-boodskap aan Dahwa gestuur het, is by die kommissie ingedien. Daarop is aangedui dat Van Rooyen die “direkteur-generaal” van MKVA was.

Dahwa sê hy het aan Van Rooyen gesê die een tender vir ’n sekuriteitsfirma is pas toegeken.

Hierop het Van Rooyen gesê het daar is ’n kwessie oor die Amadeus-kontrak. Hy weet van die R19 miljoen-besparing wat verkry is met die Amadeus-kontrak en dat daardie R19 miljoen na ’n BEE-vennoot moet gaan.

Dahwa het gesê hy was verbaas dat Van Rooyen geweet het van die onderhandeling met Amadeus wat die R19 miljoen-besparing vir die SAL sou beteken het.

Dahwa het getuig dat, soos hy dit gesien het, die R19 miljoen ’n besparing was wat SAL sou verkry. SAL het in daardie stadium ekonomies gebloei en moes by die besparing baat gevind het.

Hy sê dit het hom bekommer dat Van Rooyen van die onderhandelings met Amadeus geweet het en dat hy die maatskappy voorgestel het wat die BEE-vennoot moes wees.

Dahwa getuig dat die R19 miljoen-besparing in daardie stadium nie algemene kennis was nie. Daarom het dit hom verbaas dat Van Rooyen daarvan geweet het.

Hofmeyr het aan Dahwa gevra wat sy mening is oor wat op 9 Desember 2015 gebeur het.

Hy het gesê dat hy ’n regsverteenwoordiger gaan sien het oor sy skorsing die vorige dag. Daar was ’n groot TV-skerm waar hy was en daarop het hy gesien Van Rooyen is as minister van finansies aangestel.

Hy het gevoel hy en sy gesin is nie veilig nie. Hy het besef vir wie hy nee gesê het met hul ontmoeting, en besluit om terug te gaan Zimbabwe toe.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gevra wat in die nuusbulletin oor Van Rooyen hom laat besluit het sy familie moet teruggaan Zimbabwe toe.

Dahwa sê sy vergadering met Van Rooyen, daarna sy skorsing en daarna sy aanstelling as minister van finansies het ineengeskakel.

“Die ontmoeting met Van Rooyen was nie ’n gewone vergadering met ’n verskaffer nie. Dit was waar opdrag gegee is om tenders uit te reik.”

Die feit dat hy geweier het, het hom bekommer toe hy besef het Van Rooyen is nou minister van finansies, het Dahwa gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.