Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: ‘Ek gaan nêrens’, sê Koko glo ná skorsing by Eskom
Matshela Koko

“Ek het blou bloed in my. Ek gaan nêrens heen nie,” het Matshela Koko, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, glo aan direksielede gesê toe hy een van die vier uitvoerende bestuurslede was wat in Maart 2015 geskors sou word.

Venete Klein, wat op die direksie gedien het en by die onderhandelings met die geskorste bestuurslede betrokke was, het Donderdag in haar getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig Koko het in dié onderhandelings gesê hy sal by Eskom aanbly. Hy het nie verder deelgeneem aan die proses om ’n skeidingspakket te aanvaar nie.

Koko, wat volgens getuienis voor die kommissie reeds van die dreigende skorsings geweet het nog voordat die direksie dit met sy drie kollegas bespreek het, was die enigste van die vier wat uiteindelik aangebly het.

Hy is later tot waarnemende uitvoerende hoof van die kragvoorsiener bevorder.

Ek het blou bloed in my. Ek gaan nêrens heen nie.
Matshela Koko

Suzanne Daniels, wat Eskom se regshoof was voordat sy geskors en daarna afgedank is, het vroeër getuig dat Koko haar op 10 Maart 2015 aan die Guptas se sakevennoot, Salim Essa, voorgestel het. Volgens haar was Koko baie gemaklik in Essa se geselskap.

Daniels het getuig dat Essa by haar wou weet hoe te werk gegaan moet word om Eskom-amptenare te skors. Hy het toe gesê dat Koko een van die mense is wat geskors gaan word. Koko het nie verbaas gelyk daaroor nie.

Nonkululeko Dlamini, voormalige hoofbestuurder van Eskom se finansiële afdeling, het Woensdag getuig dat Koko haar oor die skorsings ingelig het nog voordat die direksie die uitvoerende bestuurslede op kort kennisgewing geskors het.

Koko het haar glo op 10 Maart 2015 22 keer gebel. Hy wou gehad het dat sy haar CV aan hom moet stuur en het gesê bestuurslede gaan geskors word en sy sal dalk gevra word om as uitvoerende hoof van finansies waar te neem.

Venete Klein, ’n voormalige direksielid van Eskom, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

’n Veiligheidsbeampte (wie se naam weerhou is) het vroeër die jaar voor die kommissie getuig dat Malusi Gigaba, voormalige minister van binnelandse sake, tussen Julie en Desember 2013 ses of sewe keer na die Guptas se huis in Saxonwold, Johannesburg, geneem is. Koko was een van die mense wat hy glo by die Guptas se huis gesien het.

Koko is ook een van 12 mense van wie Eskom R3,8 miljard eis vir sy beweerde betrokkenheid by ongerymdhede toe die Guptas die Optimum-steenkoolmyn gekoop het. Hy het na bewering druk op Glencore uitgeoefen om die myn aan Tegeta te verkoop.

Klein het Donderdag getuig sy het ná die Eskom-direksievergadering van 9 Maart 2011 besef dat die versoek om die uitvoerende hoofde te skors het van oudpres. Jacob Zuma gekom.

“Dit was voor 11 Maart 2015 (die dag toe die Eskom-direksie begin het om die uitvoerende bestuurslede in te roep en te skors),” het Klein getuig.

Die Eskom-direksie het weer op 11 Maart 2015 vergader in afwagting dat Lynne Brown, toe minister van openbare ondernemings, ook op die vergadering sal wees.

Nadat Brown ’n deel van die direksie-vergadering bygewoon het, het van die direksielede weer dieselfde dag met die vergadering voortgegaan.

Dr. Ben Ngubane, een van die Eskom-direksielede, het volgens Daniels op dié vergadering “in- en uitgehardloop” om Brown te bel. Dit was in dié stadium dat die naam van Tsholofelo Molefe, die finansiële direkteur, ook bygevoeg is by dié van die Eskom-hoës wat geskors moes word.

Meer oor Matshela Koko:

  • Hy het in September 1996 by Eskom as ’n ingenieur begin werk en was sedert 2014 ’n uitvoerende direkteur.
  • Koko is op 1 Desember 2016 as waarnemende uitvoerende hoof van Eskom aangestel.
  • Hy is in Mei 2017 op spesiale verlof geplaas hangende ’n ondersoek nadat ’n maatskappy, waarvan sy stiefdogter ’n direkteur was, na bewering minstens R1 miljard binne 11 maande uit ’n kontrak met Eskom verdien het.
  • Hy het in Februarie 2018 bedank voordat ’n tugverhoor gehou kon word.
Meer oor:  Venete Klein  |  Matshela Koko  |  Zondo-Kommissie  |  Eskom  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.