Adjunk-hoofregter Raymond Zondo het opdrag gegee dat daar ook ’n strafregtelike klag teen Dudu Myeni, voormalige SAL-voorsitter, by die polisie ingedien word.
Myeni het glo ’n bevel van Zondo geminag toe sy onlangs in haar getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek wat staatskaping ondersoek, die identiteit van mnr. X bekend gemaak het.
Hoewel Myeni intussen ’n beëdigde verklaring by die kommissie ingedien het om haar optrede te verduidelik, het Zondo op Vrydag se sitting aangekondig hy is nie daarmee tevrede nie.
Hy het aangekondig dat hy die kommissie se regspan opdrag gegee het om dokumente vir prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die kommissie, voor te berei sodat hy die klag kan indien.
Volgens Zondo kon Myeni moontlik die Wet op Kommissies oortree het.

Dudu Myeni toe sy vroeg in November voor die Zondo-kommissie getuig het. Foto: Gallo Images
Mnr. X is ’n geheime getuie wat vrees vir sy lewe en dié van sy gesin, en het in Februarie vanjaar voor die Zondo-kommissie getuig hoe Myeni aan hom opdrag gegee het om R1,8 miljoen aan die Jacob Zuma-stigting te betaal.
Mnr. X, die skuilnaam wat aan die getuie gegee is, het getuig hy is die eienaar van die konstruksiemaatskappy Isibonela-konstruksie.
Hy het getuig oor verskillende bedrae van miljoene rande elk wat van allerlei bankrekeninge in sy onderneming se rekening inbetaal is, wat hy dan net weer in ander rekeninge moes oorbetaal.
* Zondo het Maandag aangekondig Mosala gaan ook ’n klag teen oudpres. Jacob Zuma by die polisie indien, nadat Zuma verlede Donderdag die kommissie sonder toestemming verlaat het. Die dagvaarding wat vereis het dat hy moet getuig was steeds geldig, maar nadat Zuma se aansoek dat Zondo hom as voorsitter van die kommissie moet onttrek, misluk het, het hy die perseel verlaat.