Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Getuienisleier kap terug ná ‘vals beskuldiging’

’n Getuienisleier van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Woensdag op ’n sitting standpunt ingeneem nadat sy glo valslik daarvan beskuldig is dat sy doelbewus feite van ’n getuie weerhou.

Adv. Kate Hofmeyr, ’n getuienisleier van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Twitter

Adv. Kate Hofmeyr het Woensdag die getuienis van Nontsasa Memela, geskorste verkrygingshoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se tegniese filiaal, SAAT, gelei.

Memela, wat die vierde dag agtereenvolgens getuig het, ontken dat sy ’n tenderproses beïnvloed het voordat die tender van R1,2 miljard in 2016 onder verdagte omstandighede aan die Amerikaanse lugvaartmaatskappy AAR en sy Suid-Afrikaanse vennoot, JM Aviation, toegeken is.

Haar regsverteenwoordiger het Hofmeyr Dinsdag daarvan beskuldig dat sy doelbewus feite in ’n verklaring nie voorgelees het nie om haar kliënt te benadeel.

Hofmeyr het Woensdag uit ’n transkripsie voorgelees wat wys dat sy wel al die feite aan Memela gestel het.

“Die beskuldiging benadeel nie net my integriteit as getuienisleier nie, maar werp ’n skaduwee oor die prosesse van die kommissie. Die persepsie ontstaan nou dat daar getuienisleiers is wat aspris feite weerhou,” het Hofmeyr aan adjunk-hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, gesê.

Memela se regsverteenwoordiger het deur die loop van die getuienis telkens beswaar aangeteken oor die manier waarop Hofmeyr haar vrae stel. Memela self het ook gereeld die aard van Hofmeyr se vrae bevraagteken.

Volgens Hofmeyr moet getuienisleiers hul vrae opstel om by die waarheid uit te kom, al laat dit getuies soms ongemaklik voel. Getuienisleiers moet ook toegelaat word om getuies na verklarings en dokumente te verwys wat nie met hul getuienis strook nie.

“Die een ding wat ’n getuienisleier nooit in sy ondervraging moet doen nie, is om moedswillig te versuim om relevante vrae aan ’n getuie te stel,” het Hofmeyr gesê.

Memela het Woensdag weer eens getuig dat sy nie destyds die mag gehad het om die tenderprosesse te beïnvloed nie. Dít is ook die rede waarom sy geen probleme voorsien het daarmee dat sy tydens die tenderproses met AAR en JM Aviation gekommunikeer het nie.

As hoof van verkryging sou ek verwag dat jy weet hoe die verkrygingsprosesse werk en wat die kritiese vereistes vir die tenders is.

Luidens die tenderreëls word kommunikasie tussen bieërs en werknemers van SAAT in die tenderproses verbied. Memela was telkens huiwerig om vrae te beantwoord oor of sy meen die regte tenderproses gevolg is.

“As hoof van verkryging sou ek verwag dat jy weet hoe die verkrygingsprosesse werk en wat die kritiese vereistes vir die tenders is,” het Zondo gesê.

Memela beweer haar rol was beperk.

Sy ontken ook dat sy betrokke was by die onderhandelingsproses tussen AAR/JM Aviation en SAAT, waaruit ’n kontrak gespruit het wat SAAT benadeel het. Sy het die hele proses aan haar ondergeskikte kollega toevertrou, beweer Memela.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Nontsasa Memela  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.