Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Gupta-man kry R60 m. vir 2 dae se werk

’n Gupta-man het meer as R60 miljoen van die Neotel-maatskappy gevra vir twee dae se "bemiddelingswerk” om ’n kontrak van R1,8 miljard met Transnet te beklink.

Chetan Vaghela, ’n ouditeur van Deloitte, wat Woensdag voor die Zondo-kommissie getuig het.Foto: Skermgreep

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Dinsdag gehoor Ashok Narayan, voorheen ’n direkteur van die Guptas se Sahara-maatskappy, se naam verskyn op dokumente van ’n vreemde rakmaatskappy, Homix, wat as die sogenaamde bemiddelaar opgetree het.

Chetan Vaghela, ’n ouditeur van Deloitte, het getuig hoe die naam Homix uitgestaan het tydens ’n oudit van Neotel se boeke.

Homix het ewe skielik in die prentjie gekom op 11 Desember 2015 toe Neotel en Transnet nié tot ’n finale ooreenkoms kon kom om ’n tenderkontrak te teken nie.

Deloitte-ouditeurs het oral in Neotel-dokumente inligting gesoek oor Homix, maar daar was net vrae en geen antwoorde nie.

Vaghela het getuig ouditeurs is weens die aard van hul werk skepties, en die rede waarom Homix uit die bloute bedrae van in die R30 miljoen betaal is deur Neotel, het die gevaarligte laat flikker.

Geen inligting of Homix werklik bestaan, kon egter gekry word nie:

* Telefoonoproepe na die nommers wat op fakture was, is nie beantwoord nie;

* Die adres wat op ’n Homix-dokument was, was dié van ’n welsynsorganisasie;

* Die webblad van Homix was nie ’n egte webadres nie; en

* Daar was nie registrasiedokumente, bewyse van ID-dokumente of behoorlike bankbesonderhede vir Homix nie.

Vaghela het getuig Narayan se volle naam en van is in ’n e-pos van Neotel aan Deloitte verskaf. Nadat ’n internet-ondersoek gedoen is, is Narayan uitgewys as ’n voormalige direkteur van Sahara en dit het die Deloitte-ouditeure verder laat wonder oor die ware rede vir die geld wat aan Homix betaal is.

Gama noem egter ook dat dit gewone praktyk is vir Transnet om bemiddelaars te kontrakteer en dat Homix se kontrak met Neotel in dié lig beskou moet word.

Homix is op die nippertjie in ’n doodloopstraat met die onderhandeling tussen Transnet en Neotel deur ’n destydse Neotel-werknemer, Francois van der Merwe, voorgestel as ’n bemiddelaar.

Vaghela het getuig oor ’n brief wat Homix op 2 Julie 2015 aan Neotel gestuur het en wat die “ooreenkoms” tussen die twee partye uiteensit.

’n Tydlyn word gegee van hoe Homix op 11 Desember 2014 gekontak is; hoe Van der Merwe op 12 Desember aan Homix gesê het Neotel het ingestem dat Homix moet help met die bemiddeling; hoe ’n groep “hoëvlak kundiges” van Homix net daarna ingespring het en hoe Homix met ’n oplossing vorendag gekom wat Van der Merwe kon gebruik om met Transnet te onderhandel.

Vaghela het getuig die brief het geen duidelikheid gegee oor wat Homix gedoen het nie. Van der Merwe is ook later geskors deur Neotel, en dit moet in daardie lig gesien word.

Hy het ook getuig nadat Deloitte steeds nie antwoorde van Neotel kon kry nie, is ’n brief in Mei 2015 aangestuur wat Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, aan Neotel gestuur het.

Hierin sê Gama eerstens hy is erg bekommerd oor die inligting wat verkry is oor die Neotel- en Homix-betaling. Die ondersoek moet as baie ernstig beskou word.

Gama noem egter ook dat dit gewone praktyk is vir Transnet om bemiddelaars te kontrakteer en dat Homix se kontrak met Neotel in dié lig beskou moet word.

Vaghela sê uit die brief van Gama het dit geblyk dat Transnet bewus was van Homix.

Vaghela het sy getuienis Dinsdagmiddag afgesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.