Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Guptas land oor daar nie ‘oorkoepelende gesag’ was

Die lugmaghoof sê hy was só geskok oor die landing van die Gupta-bruilofstraler op die Waterkloof-lugmagbasis dat dit “waarskynlik die rede is waarom hy bles is”.

Só het lt.genl. Zakes Msimang, hoof van die Suid-Afrikaanse lugmag, Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg getuig.

“Dit is totaal onaanvaarbaar. Dit maak my persoonlik seer. Dit was ’n rampspoedige voorval. Dit het die beeld van die weermag en die land geskaad,” sê Msimang.

Lt.-genl. Zakes Msimang Maandag by die bekendstelling van die Afrika Lugvaart- en Verdedigingskou 2018 (ALV) by die Waterkloof-lugmagbasis. Foto: Deaan Vivier

Hy sê die vinnige reaksie deur die weermaghoof om ’n raad van ondersoek aan te stel, wys die erns van die voorval.

Op die vraag of Msimang betrokke was by die goedkeuring van landings van buitelandse vlugte op die lugmagbasis, het hy geantwoord dit is op vlakke onder hom gedoen.

Hy het voorgestel dat ’n oorkoepelende gesag aangestel word om die interaksie en kommunikasie tussen verskillende staatsdepartemente en die weermag te verbeter.

Hy sê dis weens ’n gebrek aan só ’n gesag dat die voorval kon plaasvind.

Msimang het getuig dat hy destyds genader is deur die adviseur van die minister van verdediging oor ’n moontlike besoek deur die Indiese afvaardiging.

Die adviseur wou weet watter regulasies geld ten einde te bepaal of ’n kommersiële vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis mag land.

Msimang het aan die adviseur gesê dit sou onregmatig wees vir ’n vliegtuig wat Indiese trougaste vervoer om op die lugmagbasis te land.

“Ek het gedink dit sou die einde van die saak wees. Hierdie versoek moes nie deurgegaan het toe ons nee gesê het nie. Dat dit op ’n ander vlak deurgegaan het, is die rede waarom ons ’n raad van ondersoek het.”

William Matjila, senior assistent vir buitelandse sake in die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het Donderdag getuig die regte prosesse is nie gevolg om goedkeuring vir die landing van die Gupta-vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis toe te staan nie.

Matjila sê hy het op ’n dag in sy kantoor ’n oproep van Bruce Koloane, destyds protokolhoof in die kantoor van pres. Jacob Zuma, ontvang.

Volgens Matjila het Koloane gesê die Indiese afvaardiging wou goedkeuring kry om te land.

Matjila sê omdat Koloane sy senior was, was Koloane gewoond daaraan om ’n note verbale te ontvang, waarna hy dit aan Matjila sou stuur.

’n Note verbale is ’n amptelike dokument wat buitelandse afvaardigings toestemming gee om in Suid-Afrika te land op amptelike besoeke.

Matjila sê hy sou dan die note verbale nagaan om te sien of dit al die inligting bevat wat hulle benodig.

“In die note verbale moet aangedui word wie Suid-Afrika besoek, wat die doel van die besoek is, of hulle die president kom ontmoet en of die besoek privaat is,” sê Matjila.

“Die probleem met die Indiese besoek is dat daar aan geen van die bogenoemde prosedures voldoen is nie. Gewoonlik bel my direkteur my indien hy ’n formele versoek kry, maar in dié geval het ons niks ontvang nie. My direkteur het ook niks ontvang nie,” sê Matjila.

Lt.genl. Derrick Mbuyiselo Mgwebi, waarnemende direkteur-generaal van die departement van verdediging en militêre veterane, het Donderdag getuig oor onder meer die bevindings van die raad van ondersoek na die Guptas se landing op die lugmagbasis.

Mgwebi sê die raad het bevind dat die lugmaghoof, Msimang, die minister van verdediging aangeraai het om nie die landing goed te keur nie. Die vliegtuig het nogtans geland.

Hy sê verder die veiligheid van die lugmagbasis, wat ’n strategiese fasiliteit van die weermag is, is in gevaar gestel omdat gewone burgers toegelaat is om foto’s op die perseel te neem. Burgers met private motors het ook op die basis rondgery.

Koloane, tans ambassadeur aan Nederland, sal Maandag voor die kommissie verskyn.

Koloane se naam is deur verskeie getuies genoem as die persoon wat daarvoor verantwoordelik was dat die Gupta-vliegtuig in 2013 op die Waterkloof-lugmagbasis geland het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.