Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor banke konkel glo saam

Nóg ’n getuie voor die Zondo-kommissie het sy swygreg uitgeoefen.

Phetolo Ramosebudi, ’n voormalige tesourier van verskeie staatsondernemings, het geweier om talle vrae voor die kommissie te beantwoord en aangevoer hy wil homself nie inkrimineer nie.

Dit is dieselfde rede wat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL, aangevoer het toe sy ook haar swygreg voor die kommissie uitgeoefen het.

Ramosebudi wou nie Donderdag uitbrei oor honderde duisende rande wat Regiments Capital, ’n Gupta-verwante maatskappy, glo in 2010 en 2011 by die bankrekenings van sy maatskappye inbetaal het nie.

Phetolo Ramosebudi, voormalige tesourier van verskeie staatsondernemings, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek. Foto: Skermgreep

Die maatskappye wat glo geld by Regiments Capital ontvang het, is Riskmaths, Rams Capital en Azana Capital Markets. Geld is ook betaal aan Ka Ditlou Health Services, ’n onderneming wat aan Ramosebudi se broer behoort.

In daardie tydstip was Ramosebudi die tesourier van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA), en later het hy dieselde pos by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) beklee.

In sy termyne is na bewering met tenders gekonkel tot voordeel van Regiments, maar Ramosebudi wou nie veel oor sy beweerde rol uitbrei nie.

Ingevolge bankstate wat voorgelees is aan die kommissie, word verskeie transaksies van Regiments in die bankrekeninge van Ramosebudi se maatskappye weerspieël.

Adv. Matthew Chaskalson, getuienisleier van die kommissie, het ook telkens verwys na e-posse aan Regiments, waarby Ramosebudi se maatskappye fakture en bankrekeningnommers aangeheg het.

Toe Chaskalson Ramosebudi oor die betalings gevra het en of daar enige dienste daarvoor gelewer is, het Ramosebudi verskeie kere by herhaling gesê: “Voorsitter, ek behou my die reg voor om nie die vraag te beantwoord nie omdat ek nie myself wil inkrimineer nie.”

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo het later gewaarsku dat Ramosebudi homself kan benadeel deur swygreg te gebruik wanneer die bewyse op “misdadigheid of verkeerde optrede” dui.

“Dit beteken dat wanneer ek my verslag skryf, sal die beskikbare bewyse eensydig voor my wees en ek sal bevindings daaroor moet maak,” het Zondo gesê.

Ramosebudi het Zondo verseker dat hy die implikasies van sy optrede verstaan.

Ingevolge die onderskeie ooreenkomste sou die banke dienste vir ACSA lewer om renteruiling van miljarde rande te fasiliteer. Renteruiling, in Engels bekend as “interest swap” behels onder meer dat ’n vasgestelde rentekoers geruil word met ’n meer gunstige koers, maar wat nie vir ’n bepaalde termyn vasgestel word nie.

Die banke het met Regiments ooreengekom dat laasgenoemde ’n bedrag van miljoene rande sou ontvang, hoewel dit nie presies duidelik is watter dienste Regiments sou verskaf nie. ACSA sou glo die banke betaal, waarna die geld aan Regiments betaal is. Chaskalson het aangevoer dat in die geval van Nedbank was ACSA nie bewus daarvan dat Regiments enigsins by die kontrak sou baat nie, en dat dit verdoesel is. Op ACSA se boeke sou die betaling nie reflekteer as ’n betaling aan Regiments nie, maar aan Nedbank.

Volgens Chaskalson kan daar afgelei word dat Nedbank en Regiments saamgesweer het om ACSA in te loop omrede die lughawensmaatskappy nie daarvan bewus was dat Regiments miljoene rande sou kry nie.

Hy het ook verwys na ’n e-pos in Junie 2010, waarin Eric Wood, direkteur van Regiments Capital, aan Ramosebudi geskryf het oor R22 miljoen wat Regiments uit die Standard Bank-transaksie sou ontvang.

Ramosebudi het ontken dat hy moes pa-staan vir die transaksies omdat hy eers as die tesourier aangestel is nadat die kontrakte goedgekeur is.

Sover hy egter weet, het niemand, buiten hyself, by ACSA van Regiments se betrokkenheid geweet nie.

Toe Chaskalson vrae gevra het oor e-posse oor tenderkontrakte tussen Regiments en die SAL, wou Ramosebudi amper glad nie uitbrei nie omdat hy homself daardeur kan inkrimineer.

Hy wou telkens nie eens sê oor of hy die e-posse kan onthou of oor die inhoud daarvan praat nie.

Sy getuienis sal dalk Vrydag voortgesit word. Hy moet nog getuig oor sy tyd by Transnet toe hy ook daar die tesourier was.

Meer oor:  Dudu Myeni  |  Raymond Zondo  |  Staatsondernemings  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.