Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor joernalis kry geld van misdaad-intelligensie

Die senior joernalis Ranjeni Munusamy se naam is Woensdag voor die Zondo-kommissie genoem as iemand wat na bewering sowat R140 000 ontvang het uit ’n geheime fonds van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

Munusamy is reeds sowat 20 jaar lank ’n joernalis by verskeie publikasies. Haar huidige werkgewer, die Tiso Blackstar-groep wat die koerante Sunday Times, Business Day en Sowetan insluit, sê in ’n verklaring in die lig van die ernstige aantygings teen haar is Munusamy op spesiale verlof geplaas.

Die senior joernalis Ranjeni Munusamy is op spesiale verlof geplaas in die lig van die ernstige aantygings teen haar.Foto: Argief

Munusamy het by navraag gesê sy ontken die aantygings. Sy en haar regsverteenwoordigers is besig om ’n antwoord op te stel aan die Zondo-kommissie en sy gee haar volle samewerking aan die kommissie.

Haar naam is genoem in die getuienis van Kobus Roelofse, senior ondersoeker van die Valke, wat verwys het na ’n geheime fonds van die misdaadintelligensie-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Roelofse het getuig die beweerde betalings aan Munusamy is in ’n ondersoek na beweerde korrupsie opgediep waarby beamptes van die misdaadintelligensie-eenheid en Atlantis Motors in Centurion betrek word.

Dit hou verband met ’n bedrag van R143 000 wat deur Atlantis Motors aan WesBank oorbetaal is. ’n Motorlening wat glo in Munusamy se naam was, is hiermee afgelos.

Die transaksie is glo op 30 Julie 2008 gedoen.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het Woensdag gesê die kommissie sal die kwessie later hanteer omdat die naam op die transaksie nie dieselfde gespel is as in Roelofse se beëdigde verklaring aan die kommissie nie.

Die Tiso Blackstar-groep sê in sy verklaring hy onderskryf die waardes dat iemand as onskuldig beskou word totdat hy of sy skuldig bevind is en dat die reg insluit dat albei kante van ’n saak gehoor moet word. Daar is egter wel besluit om Munusamy op spesiale verlof te plaas in die lig van die erns van die aantygings.

Bongani Siqoko, redakteur van Sunday Times, het met ’n interne ondersoek begin kort nadat die Zondo-kommissie Munusamy van die beweringe teen haar in kennis gestel het.

Tiso Blackstar sê Munusamy was nie by enige titels van dié mediagroep betrokke in die tydperk wat in die bewerings genoem word nie en die maatskappy is ook nie bewus van enige ondersoek wat Munusamy betrek in die tydperk toe sy ’n vryskutjoernalis was nie.

Die kommissie het Woensdag ook gehoor luukse motors ter waarde van meer R3 miljoen is uit die geheime fonds van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid gefinansier en familie en vriende is in die eenheid aangestel terwyl dit onder beheer van Richard Mdluli was.

Roelofse het getuig hy is deur kol. Dhanajaya Naidoo, ’n voormalige lid van misdaadintelligensie, in breë terme ingelig oor luukse motors wat gebruik is om senior bestuurslede te beïnvloed. Sekere lede het omstreeks Mei 2011 na vore gekom en beweer dat motors op dié manier gebruik is.

Van die voertuie wat aangekoop is, was ’n Mercedes-Benz E-klas-sedan, ’n Mercedes-Benz 350 CDI, ’n BMW 530 D-sedan, ’n Mercedes-Benz ML 350 en ’n Lexus.

’n Audi Q5 ter waarde van R557 000 is glo ook met geld van die staatsveiligheidsfonds aangekoop vir ene “genl. Monoko Mpshe”, wat in beheer van mensehulpbronne was.

Roelofse het getuig soos hy verstaan het sy nie ’n pos in misdaadintelligensie beklee nie, maar het sy ’n rol gespeel in besluite oor hoeveel poste beskikbaar is en die begroting daarvoor. Sonder haar sou hulle nie daartoe in staat gewees het om goed deur te druk nie, sê Roelofse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.