Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor naam ‘Iqbal Sharma’ telkemale

Die naam van die sakeman Iqbal Sharma is talle kere voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping genoem weens sy beweerde verbintenis met die beweerde grootskaalse staatskaping en geldwassery deur die Guptas.

Sharma, wat Donderdagoggend in die landdroshof in Bloemfontein verskyn het op aanklag van geldwassery in verband met die Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat, is in getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping genoem as ’n sleutelfiguur in die Gupta-web om staatstenders te bekom.

Hy was in die tyd toe Transnet na bewering deur die Guptas gestroop is, die voorsitter van die Transnet-direksie se verkrygingskomitee – ’n sleutelrol in Transnet wat oor groot kontrakte, soos die omstrede tender vir die verkryging van 1 064 lokomotiewe, aanbevelings moes maak.

Vir die kontrak om die 1 064 lokomotiewe aan te skaf, was die aanvanklike prys R38,6 miljard, maar dit het tot R54,5 miljard gestyg.

Die beskuldigdes van links na regs: Peter Thabethe, voormalige departementshoof, dr. Limakatso Mooroosi, ook ‘n voormalige departementshoof van landbou in die Vrystaat, Seipati Sylvia Dlamini, ’n voormalige finansiële hoof van die departement, en sakeman Iqbal Sharma. Foto: Mlungisi Louw

Sharma se naam is ook genoem as sakevriend van Salim Essa en dat hy Essa glo gehelp het om Denel-kontrakte deur die VR Laser-maatskappy te probeer inpalm.

Sharma het in September 2008 ook beheer geneem van die maatskappy Nulane Investments 204, die vyfde beskuldigde in die saak van geldwassery teen hom.

Nulane was ook lid van ’n konsortium wat ’n plan in die Vrystaat gehad het om ’n projek genaamd “Stad vir die Toekoms” voor te stel. Die Vrystaatse departement van ekonomiese ontwikkeling sou dié konsortium R140 miljoen betaal om die plan te ontwikkel.

In getuienis deur Paul Holden, ’n onafhanklike ondersoeker van die nieregeringsorganisasie Shadow World Investigations, het hy aan die Zondo-kommissie verduidelik hoe die Guptas se beweerde internasionale skema van geldwassery gewerk het en hoe frontmaatskappye gebruik is om geld wat glo bedrieglik uit tenders gemaak is, uiteindelik na Gupta-rekeninge te kanaliseer.

Holden het getuig daar is R24,9 miljoen aan Nulane Investments betaal deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling.

In die getuienis van Popo Molefe, oudvoorsitter van die Prasa-direksie, het hy aangevoer die kernrolspelers van die staatskaping by Transnet was mense soos Siyabonga Gama en Brian Molefe, albei voormalige hoofde van Transnet, asook Anoj Singh, voormalige finansiële hoof, en dan Sharma in sy hoedanigheid as hoof van die Transnet-direksie se verkrygingskomitee.

Molefe het ook getuig bogenoemde is almal aangestel in die tyd toe Malusi Gigaba minister van openbare ondernemings was.

Wat die maatskappy VR Laser betref, blyk dit dat Sharma die baasbrein was om die maatskappy oor te neem.

Die Guptas het VR Laser destyds onder die eienaar uitgekoop sonder dat dié ooit geweet het die Guptas en Duduzane Zuma, oudpres. Jacob Zuma se seun, sit agter die transaksie.

Daar is voor die kommissie getuig Essa en Sharma het in Desember 2013 ’n transaksie beklink en twee vennote in VR Laser uitgekoop.

Rajesh (Tony) Gupta en drie ander mans het op 6 Januarie 2014 by VR Laser se kantore in Johannesburg opgedaag en aangekondig hulle is die nuwe eienaars. Die personeel is aangesê om voortaan aan hulle verslag te doen.

Denel is hierna met verskeie kontrakte in só ’n mate deur die Guptas geplunder dat dié wapentuigvervaardiger van die staat op sy knieë gedwing is, volgens getuienis voor die kommissie.

Meer oor:  Staatskaping  |  Geldwassery  |  Gupta-Uitlewering  |  Sakeman  |  Iqbal Sharma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.