Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor oor foute in ‘skoon’ oudits vir SAL

Verskeie vrae het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ontstaan oor die rol wat die ouditeursfirmas PwC en Nkonki  gespeel het om skoon oudits aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) toe te ken.

Polani Sokombela, rekenmeester in die kantoor van die ouditeur-generaal (OG), het getuig die SAL se boekhouding was in ’n chaotiese toestand toe die OG in 2016-’17 die oudits oorgeneem het.

Volgens Sokombela was daar verskeie foute in die oudits van PwC en Nkonki, wat van 2012 tot 2016 skoon oudits aan die SAL uitgereik het.

“Die kans is skraal dat die boekhouding in een jaar so drasties versleg het. Daarom moes die vorige ouditeure waarskynlik van die slegte toestand geweet het, hoewel ek dit nie met sekerheid kan sê nie,” sê Sokombela.

Volgens hom kon nie eens die OG ’n behoorlike oudit doen nie omdat verskeie dokumente van die SAL blykbaar vermis geraak het.

Die kans is skraal dat die boekhouding in een jaar so drasties versleg het. Daarom moes die vorige ouditeure waarskynlik van die slegte toestand geweet het, hoewel ek dit nie met sekerheid kan sê nie.

In een steekproef het die OG bepaal dat 86% van tenders en kwotasies nie aan die regulasies van die verkrygingsproses voldoen nie.

“Die kwessie van boekhouding was ’n groot probleem en soms het dit maande geneem voordat ons dokumente in die hande kon kry. Die SAL het ook nie voldoende beleid en prosedures gehad nie, terwyl ons ook bepaal het niemand daar is verantwoordbaar vir enigiets nie,” sê Sokombela.

Hy sê die regsafdeling van die SAL se kapasiteit was so klein dat ooreenkomste met diensverskaffers gesluit is sonder dat kontrakte onderteken is. Amptenare wat betrokke was by die verkrygingsproses het glo nie geweet hoe om die regulasies van die nasionale tesourie toe te pas nie.

“Ons kon ook nie die bestaan van sekere vliegtuigonderdele bevestig nie. Dit is kommerwekkend, want dit is ’n vereiste vir die lugwaardigheid van ’n vliegtuig.

“Die vliegtuie self was nie gebrekkig nie, maar ons kon nie bewyse kry dat herstelwerk aan onderdele of ander toerusting gedoen is nie,” sê Sokombela.

Die OG het onder meer bepaal dat die onstabiliteit by die SAL bygedra het tot die chaotiese situasie. Toe die OG met sy oudit begin het was meer as 40% van die SAL-direksie daar in ’n waarnemende hoedanigheid.

Die vliegtuie self was nie gebrekkig nie, maar ons kon nie bewyse kry dat herstelwerk aan onderdele of ander toerusting gedoen is nie.

Volgens Sokombela het die OG destyds met verteenwoordigers van PwC en Nkonki vergader waar dié ouditfirmas glo erken het dat hulle in hul oudits nie veel moeite gedoen het om na die afdeling vir verkryging te kyk nie.

Die OG het nooit bepaal of die ouditfirmas verkeerd opgetree het nie, want dit was nooit deel van sy mandaat nie.

Pule Mothibe, vennoot van PwC, sou Vrydag ná Sokombela getuig, maar sy getuienis is uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.