Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor van ‘20 lêers vol bewyse van tenderbedrog’

’n Durbanse sakeman wat bande met oudpres. Jacob Zuma se seun Edward het, het glo kragopwekkers vir R5 000 gekoop en dit dan vir tussen R92 000 en R97 000 aan die polisie in KwaZulu-Natal verkoop.

Kol. Johannes van Loggerenberg
Kol. Johannes van Loggerenberg, wat destyds as lid van die Valke in KwaZulu-Natal tenderbedrog van R90 miljoen teen die sakeman Thoshan Panday ondersoek het. Foto: Felix Dlangamandla

Dít was Woensdag die getuienis van kol. Johannes van Loggerenberg, wat destyds as lid van die Valke in KwaZulu-Natal tenderbedrog van R90 miljoen teen die sakeman Thoshan Panday ondersoek het.

Van Loggerenberg se getuienis het ingeskakel by dié van genl.maj. Johan Booysen, voormalige Valke-hoof in die provinsie, wat voorheen oor Panday se verhouding met die destydse polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, getuig het.

Van Loggerenberg het getuig hoe hy ’n volledige saakdossier saamgestel het, wat beëdigde verklarings en forensiese bewyse ingesluit het, maar dat Ngobeni glo in so ’n mate ingemeng het dat die ondersoek stopgesit is en Panday tot vandag toe nooit vervolg is nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Van Loggerenberg gevra of iemand Ngobeni ooit gevra het hoekom sy die ondersoek gestaak het.

Van Loggerenberg se antwoord was dat sover hy weet, het niemand Ngobeni gevra nie, maar die rede was duidelik vir almal, dit was omdat “sy geïmpliseer is”.

Hy het ook getuig almal het geweet dat Panday ’n sakevennootskap met Edward Zuma gehad het. Dit het gegaan oor politiek, het Van Loggerenberg geantwoord op die vraag hoekom hy dink die saak stopgesit is.

Panday het met die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010 in die prentjie gekom.

Volgens Van Loggerenberg het hy op ’n onreëlmatige wyse tenders van die polisie in KwaZulu-Natal gekry om verblyf aan polisiebeampte en kragopwekkers te verskaf.

Van Loggerenberg het getuig dat twee beamptes in die polisie se tender-afdeling die tenderprosedures omseil het en selfs na Pretoria gery om die tenders in die polisiehoofkantoor deur die stelsel gevoer te kry.

Hy het getuig die bewyse in die ondersoek was oorweldigend. Daar was 20 groot lêers vol bewyse.

Volgens hom het een van die ondersoeke aan die lig gebring dat Panday ’n deposito van R10 000 vir ’n verrassingspartytjie vir Ngobeni se man betaal het. Panday het ook ná die partytjie ’n rekening vir die partytjie met sy kredietkaart vereffen.

Hy het ook betaal vir ’n Kaapstadse vakansie van ’n polisiebeampte en sy gesin; hy het ’n voertuig vir ’n polisiebeampte gekoop en in nog ’n geval oefentoerusting gekoop.

14012020 News Johannesburg-Deputy Chief Justice Ra
Adjunk-hoofregter Raymond Zondo Foto: Felix Dlangamandla

Panday het ook R29 000 se studiegeld van ’n beampte se kind betaal, volgens Van Loggerenberg. Al dié inligting is in die forensiese verslag wat deel van die dossier is.

Hy het getuig dat Panday verskeie ondernemings se name gebruik het om vals tenders te bekom. Al die verskillende ondernemings het een adres gehad.

Al dié inligting is in ’n swart boekie aangeteken, waarop Van Loggerenberg en sy ondersoekspan glo beslag gelê het.

“Panday het kragopwekkers vir R5 000 elk aangekoop en aan die polisie vir tussen R92 000 en R97 000 per kragopwekker herverkoop. Dit is belaglik,” het Van Loggerenberg getuig.

Behalwe vir Ngobeni se pogings om die ondersoek gestop te kry, waaraan Van Loggerenberg nie gehoor gegee het nie, het adv. Moipone Noko, toe hoof van die nasionale vervolgingsgesag in KwaZulu-Natal, glo op 7 Februarie 2013 opdrag gegee dat die klagte teen Panday en ’n polisiebeampte, kol. Navin Madhoe, teruggetrek word.

Zondo het aan Van Loggerenberg gevra of die saak nou, sewe jaar later, steeds nie voorgekom het nie.

Van Loggerenberg het dit bevestig.

Nadat die saak teruggetrek is, het Panday probeer dat geld wat hy gemeen het die polisie hom skuld, uitbetaal moet word. Booysen het die uitbetaling gekeer, waarna Panday volgens Van Loggerenberg probeer het om ’n polisiebeampte met R1 miljoen om te koop om te verseker dat die uitbetaling gedoen word.

Dié saak is ook nog hangende.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.