Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor van ekstra opname oor omstrede Eskom-vergadering
Venete Klein getuig voor die Zondo-kommissie oor gebeure in Maart 2015 toe sy ’n Eskom-direksielid was. Foto: Skermgreep

Venete Klein, wat in Desember 2014 deel geword het van die Eskom-direksie nadat sy op ’n advertensie hieroor in die koerant gereageer het, sê sy stem nie saam met die destydse voorsitter, Zola Tsotsi, se weergawe van die direksievergadering waarin besluit is vier bestuurslede van Eskom moet geskors word nie.

Klein het Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig oor die gebeure in Maart 2015 toe die vier bestuurslede geskors is.

Volgens Klein is ’n opname van Eskom se direksievergadering van 11 Maart 2015, wat die kommissie vroeër die week gespeel en waaroor Tsotsi getuig het, nie die hele opname van die vergadering nie.

Sy het ’n opname waarin baie meer gesê is as waaroor Tsotsi gevra is om te getuig.

Tsotsi het getuig hoe hy gevra is om ’n vergadering by die huis van oudpres. Jacob Zuma in Durban by te woon waar Dudu Myeni (destydse voorsitter van die SAL-direksie) teenwoordig was. Op die vergadering het Myeni gesê ’n onafhanklike party moet ’n ondersoek by Eskom doen. Sy het verder voorgestel dat die Eskom-bestuurslede tydens die ondersoek geskors moet word om te keer dat hulle inmeng, volgens Tsotsi se getuienis.

Dit was nadat Zuma enkele weke tevore op die vooraand van ’n Eskom-direksievergadering, wat op 26 Februarie moes plaasvind, vir Tsotsi gebel en gesê het dié vergadering moet gekanselleer word, ook volgens Tsotsi se getuienis.

Die groot kommer is dat hy nooit aan die direksie gesê het hy het ’n vergadering met Myeni gehad nie. Hy wou die vier laat skors en die direksie het gesê daar is geen bewyse van sy aantygings teen hulle nie.

Klein het hieroor getuig en gesê daar was baie praatjies oor die vergadering wat Zuma, maar veral Myeni, met Tsotsi gehad het. Sy het nie heeltemal verstaan waarom ’n sittende president op so ’n wyse betrokke sou raak nie, het Klein gesê.

Sy was hoogs ontevrede hieroor dat hulle die aand voor die geskeduleerde vergadering van 26 Februarie die kennisgewing gekry het dat dit gekanselleer is. Eskom se korporatiewe planne moes op dié vergadering afgeteken word, anders sou hulle die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) oortree. Volgens Klein het sy ’n e-pos hieroor aan Tsotsi gestuur, maar hy het nie daarop geantwoord nie.

Sy het getuig op die direksievergadering van 11 Maart het Tsotsi streng met die direksielede gepraat en gesê daar is van hulle wat regstreeks met die Eskom-bestuurslede praat, wat onaanvaarbaar is. Volgens Klein het sy die boodskap so verstaan dat hulle slegs deur Tsotsi met die bestuurslede mag kommunikeer.

Klein het aangevoer Tsotsi se weergawe van wat alles op dié vergadering gesê is, nie korrek is volgens hoe sy dit onthou nie.

Volgens Tsotsi se getuienis was die rede vir die besluit om die vier bestuurslede te skors dat hulle nie by die onafhanklike ondersoek inmeng nie.

Volgens Klein het Tsotsi egter redes gegee vir elkeen van die vier Eskom-bestuurslede se skorsing. “Hy het bepaalde klagtes oor elkeen gehad.”

Uit die geledere van die res van die direksielede was daar twyfel daaroor dat die vier hoofde net geskors kan word op Tsotsi se bewerings en daar was ’n voorstel dat hulle vir slegs drie maande moet “wegstaan” terwyl die ondersoek gedoen word, volgens Klein.

Sy het getuig soos sy dit verstaan het, was die ondersoek aanvaarbaar. Eskom se geldsake was in ’n chaos en die entiteit het nie geld gehad nie. Die direksie moes uitvind wat aangaan.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het uitgewys Tsotsi het gesê toe hy by Zuma se huis was en Myeni met hom gepraat het, is gesê die vier Eskom-hoofde gaan nie geskors word omdat hulle iets verkeerds gedoen het nie.

Klein het hierop gesê sy het gehoor wat Tsotsi hieroor getuig het, maar dit het nie gebeur soos wat hy voor die kommissie getuig het nie.

“Die groot kommer is dat hy nooit aan die direksie gesê het hy het ’n vergadering met Myeni gehad nie. Hy wou die vier laat skors en die direksie het gesê daar is geen bewyse van sy aantygings teen hulle nie.”

Zondo het hierop gesê dit is baie interessant, hy hoop die opnames van die direksievergadering is beskikbaar.

Klein het gesê sy sal dit aan die kommissie beskikbaar stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.