Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor van ‘gekonkel’ agter toe deure by SAUK

Geheime agendas, sabotasie en hartseer was aan die orde van die dag by die SAUK in die tyd toe Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof, sy stempel daar afgedruk het.

Lulama Mokhobo, ’n voormalige groephoof van die SAUK, het Woensdag voor die Zondo-kommissie getuig. Foto: Skermgreep

Dít was Woensdag die getuienis van Lulama Mokhobo, ’n voormalige groephoof van die SAUK, voor die Zondo-kommissie.

Volgens Mokhobo is sy uitgesluit uit geheime vergaderings wat deur Motsoeneng en Ellen Tshabalala, voormalige SAUK-raadsvoorsitter, gehou is.

Daar was twee kampe en inligting is van haar weerhou.

Mokhobo is gevra om onder meer te getuig oor die ooreenkoms wat die SAUK met MultiChoice aangegaan het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het aan Mokhobo gesê hy sal graag wil weet hoe dit gebeur het dat iemand buite die SAUK dalk kon dikteer wat binne die SAUK gebeur het.

Mokhobo se antwoord was die SAUK was vir jare lank ’n terrein van onenigheid.

Sy het gesê Motsoeneng het verskeie kere teenoor haar gespog dat hy in die president (oudpres. Jacob Zuma) se huis was en hoe naby hy aan die president is.

“Daar was ministers wat Motsoeneng kom sien het, dit was vreemd.. Daar was agendas en sabotasie," het Mokhobo getuig.

Die SAUK het in die verlede direksies gehad wat nie kon saamwerk nie. Dit het vir jare aangegaan.

Om die gety by die SAUK te verander, moes etiese mense aangestel word. Mense wat geensins sal vergeet wat die ware doel van die SAUK is nie, aldus Mokhobo.

Oor die kontrak met MultiChoice het sy gesê op 2 Julie 2013 was daar ’n vergadering van die SAUK se subkomitee oor finansies en verkryging waarop daar besluit is die ooreenkoms word goedgekeur, behalwe vir aspekte wat na ’n senior regskenner verwys moet word.

Hierop het Zondo gesê dit maak nie sin nie. “Hoe het die subkomitee aangeneem hy het die mag om die kontrak goed te keur?”

Hoe het die subkomitee aangeneem hy het die mag om die kontrak goed te keur?

Mokhobo het geantwoord dit is wat sy ook wou weet. Die regte prosedure sou wees vir die subkomitee om die ooreenkoms te ondersoek en dan met ’n aanbeveling na die direksie van die SAUK te gaan vir goedkeuring.

Sy sê die subkomitee het nie die mag gehad om die ooreenkoms goed te keur nie. Veral ook in ag genome dat dit ’n beleidsverandering omvat het wat selfs op ministeriële vlak oorweeg moes word.

Mokhobo het ook getuig oor die voormalige voorsitter, Tshabalala, en gesê hul verhouding was baie sleg. Dit was nie net dat hulle nie oor die weg gekom het nie, dit het dieper as dit gegaan.

Volgens Mokhobo het Tshabalala so ver gegaan en in ’n ministeriële vergadering gesê die SAUK het saamgestem dat daar nié dekodeerders gebruik gaan word met die digitalisering van televisiedienste nie.

Die direksie van die SAUK het nié so ’n besluit geneem nie en Tshabalala het hieroor gelieg vir die minister, voer Mokhobo aan.

Getuienis oor die SAUK is Woensdagmiddag vir eers opgeskort.

Meer oor:  Sauk  |  Hlaudi Motsoeneng  |  Zondo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.