Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor van ‘gekonkel’ met SAAT-tender

Senior bestuurders van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se tegniese filiaal, die SAAT, het moontlik ’n tenderbepaling oortree deur in Mei 2015 met die Amerikaanse lugvaartmaatskappy AAR te vergader.

Adv. Nontsasa Memela, geskorste verkrygingshoof van die SAAT, het Dinsdag vir ’n derde keer agtereenvolgens voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Sy word betrek by ’n beweerde korrupte R1,2 miljard-tender wat in 2016 aan AAR en sy Suid-Afrikaanse vennoot, JM Aviation, toegeken is om vliegtuigonderdele aan die SAAT te verskaf.

Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag getuienis gehoor oor hoe Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-direksie, ingemeng het by ’n ruiltransaksie met Airbus.Foto: Bloomberg

Ingevolge die bepalings van dié tender mag werknemers van die SAAT nie in die tenderproses met bieërs kommunikeer nie.

Hoewel Memela telkens met e-pos in die tenderproses met JM Aviation en AAR gekorrespondeer het, hou sy vol dit maak nie saak nie omdat haar rol in die tenderproses beperk was.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier vir die kommissie, het Memela daarop gewys dat sy in Mei 2015 lid was van ’n afvaardiging waarvan Musa Zwane, voormalige uitvoerende hoof van die SAAT, ook deel was, wat wel ’n sê oor die tender gehad het.

Die afvaardiging het na AAR, een van die bieërs, se kantoor in Chicago in Amerika gevlieg om met AAR te vergader, wat vermoedelik die bepalings van die tender oortree het.

“Hoekom het jy as verkrygingshoof van die SAAT nie die senior bestuur daarop gewys dat hulle moontlik die bepalings van die tender oortree deur met AAR te vergader nie?” het Hofmeyr gevra.

Volgens Memela sou die vergadering slegs ’n probleem wees as die tender bespreek is, wat volgens haar nie gebeur het nie. Sy sê die afvaardiging was eerder in Chicago om oor ’n vennootskap te vergader. Die tender is kort ná die vergadering teruggetrek en later heruitgereik.

Ingevolge wetgewing mag bieërs nie inligting ontvang wat hulle onregverdig bo ander bieërs bevoordeel nie.

Hofmeyr het na e-posse verwys waarin dit blyk dat AAR voor die tyd bewus was dat die tender teruggetrek sou word. Memela sê sy weet nie hoe dié inligting aan AAR uitgelek het nie.

Hoewel Memela volhou dat haar rol in die tenderproses beperk was, dui dokumente en verklarings van voormalige kollegas op die teendeel.

Die uitvoerende hoof van JM Aviation, Vuyisile Ndzeku, het kort voordat die kontrak beklink is R2,5 miljoen bygedra tot die koop van Memela se huis in Bedfordview.

Memela hou vol dié geld is eintlik onregstreeks van haar ma afkomstig omdat Ndzeku twee eiendomme by haar ma gekoop het.

Memela het telkens in die loop van haar getuienis lang, uitgebreide antwoorde verstrek wat nie veel klarigheid gebring het nie. Adjunk-hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, het haar gereeld gemaan om haar antwoorde bondig te hou omdat tyd gemors word.

Memela se regsverteenwoordiger sal Woensdag kans kry om vrae aan Memela te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.