Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo hoor van Molefe se rugsak met bondels R200-note in
Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Argief

Brian Molefe het ’n ligbruin leerrugsak met bondels R200-note in sy Transnet-kantoor in die Carlton-sentrum in Johannesburg gehad – dieselfde leerrugsak wat hy telkemale saam met hom geneem het wanneer hy met Ajay Gupta by die Gupta-woning in Saxonwold vergader het.

Dié dramatiese bewering is Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping deur ’n Transnet-werknemer gemaak wat in die veiligheidsafdeling werk en belangrike mense soos die uitvoerende hoof van Transnet rondry en hul beskerming behartig.

Indien jy jou lewe liefhet, stel ons voor jy bedank en verdwyn . . .

Wanneer ’n mens die note op ’n hoop sou stapel, sou dit 30 cm hoog wees, het die veiligheidsbeampte getuig.

Sy identiteit word beskerm en hy was nie self teenwoordig in die Ou Raadsaal waar die kommissie se sitting plaasvind nie. Selfs sy stem is met tegnologie vermom. Die man het reeds drie boodskappe op sy Transnet-selfoon gekry waarin hy met die dood gedreig word.

Getuie 1 het gesê hy werk sedert 1989 by Transnet se veiligheidsafdeling en vanaf 2011 tot einde Julie 2014 was hy Molefe se persoonlike wag en drywer toe Molefe die uitvoerende hoof van Transnet was. Van die motors waarmee hy Molefe rondgery het, was ’n BMW X5, ’n Mercedes-Benz E350 en ’n Audi A8.

Volgens Getuie 1 weet hy dat Molefe vir Ajay Gupta besoek het, omdat hulle by die hoofhek by die Saxonwold-woning Ajay Gupta se naam genoem het.

Getuie 1 het bevestig hy het Molefe na verskeie adresse geneem, onder meer die Saxonwold-woning van die Guptas, die Sahara-kantoor, asook na hotelle. Daar het hy vir Ajay Gupta ontmoet.

Getuie 1 het alles in sy aantekeningboek geskryf – datums, tye, die registrasienommers van die voertuie waarmee hy gery het, asook die kilometers wat afgelê is – met die sowat 14 vergaderings wat tussen Ajay Gupta en Molefe plaasgevind het. Dié bewyse is aan die kommissie verskaf.

Volgens Getuie 1 weet hy dat Molefe vir Ajay Gupta besoek het, omdat hulle by die hoofhek by die Saxonwold-woning Ajay Gupta se naam genoem het. Molefe het nie van die ander Guptas besoek nie.

Die besoeke het tussen 20 minute en 45 minute geduur.

Met Molefe se besoeke aan die Gupta-woning het hy ’n ligbruin leerrugsak saam met hom ingevat.

Sommige kere het hy ingegaan sonder die rugsak en dan het hy met ’n bruin sportsak uitgekom.

Op 18 Januarie 2012 het Getuie 1 ’n sak vir Molefe gaan aflewer by Ajay Gupta se Sahara-kantoor. Dit was ’n donkerbruin leersak.

Getuie 1 het gesê hy het Ajay Gupta ook op ’n ander geleentheid gesien, in 2012 op ’n ANC-konferensie in Bloemfontein waar hy in Molefe se geselskap was.

Op ’n vraag of Getuie 1 enige ander bekende mense by die Gupta-huis gesien het, het hy geantwoord ja, vir Malusi Gigaba, ’n voormalige minister van finansies, asook vir Siyabonga Mahlangu (Gigaba se raadgewer).

Getuie 1 het getuig daar was ’n voorval in Molefe se kantoor in die Carlton-sentrum.

Molefe was in die Transnet-raadsaal en het Getuie 1 gevra om sy selfoon in sy kantoor te gaan haal. Getuie 1 het ’n ligbruin leerrugsak oopgemaak om die selfoon uit te haal en opgemerk die sak is halfpad vol bondels R200-note.

“Ek was verras om te sien die sak was halfpad vol met geld,” het Getuie 1 gesê.

Hy het Molefe se persoonlike assistent geroep en na die kontant gewys en gesê sy moet seker maak dit raak nie weg nie.

“Ek was verras om te sien die sak was halfpad vol met geld,” het Getuie 1 gesê.

Op ’n vraag van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, oor hoe hoog die stapel note sou wees indien ’n mens dit op mekaar sou stapel, het Getuie 1 geantwoord sowat 30 cm hoog.

Getuie 1 het getuig hy het Molefe met sy terugkeer gewaarsku om nie sulke groot bedrae kontant by hom te hou nie, omdat dit ’n veiligheidsrisiko vir hulle albei is.

Molefe was duidelik ontsteld en het aan Getuie 1 gesê wat in die sak is, het niks met hom te doen nie.

Getuie 1 het ook getuig dat hy talle kere vir Molefe by Absa, Nedbank en Standard Bank kontantdeposito’s moes gaan doen. Dit was dieselfde tyd van die maand, tussen die 28ste van een maand en die vyfde van die volgende maand. Die bedrae geld was tussen R5 000 en R20 000. Soms het Molefe vir Getuie 1 die geld gegee om te deponeer en ander kere het sy persoonlike assistent die geld vir hom gegee.

Volgens Getuie 1 is hy nou reeds by drie geleenthede gedreig. Hy is die eerste keer in 2018 op sy Transnet-selfoon gebel en ’n man het gesê: “Ons weet waar jy bly”.

Op 8 April 2019 is Getuie 1 deur die kommissie se ondersoekers ondervra en die dag daarna het hy om 21:20 ’n boodskap op sy Transnet-selfoon gekry: “Indien jy weet wat goed is vir jou, beveel ek jou om nie enige verdere inligting aan die Zondo-kommissie te gee nie. Ons weet selfs waar jy bly.”

Getuie 1 sê hy het dit by die polisie gaan aanmeld.

Op 13 Januarie vanjaar, die eerste dag terug by Transnet ná sy vakansie, het hy weer ’n boodskap op sy Transnet-foon ontvang: “Ons is ten volle bewus dat jy getuienis gaan lewer voor die Zondo-kommissie en dat jy ander veiligheidswagte geïntimideer het. Jammer om jou in te lig, maar jy word gebruik. Jy is op jou eie. Indien jy jou lewe liefhet, stel ons voor jy bedank en verdwyn . . .”

Meer oor:  Brian Molefe  |  Zondo-Kommissie  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.