Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo-kommissie is gekaap, sê voormalige Prasa-hoof

Die Zondo-kommissie is gekaap, het Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap (Prasa), Vrydag voor sy getuienis aangevoer.

Montana het ’n verklaring van 98 bladsye voorberei en gevra of hy die kommissie kan toespreek voordat sy getuienis begin.

Hy het gesê die kommissie is onder verdenking en dat hy weet daar is mense wat sê adjunkhoofregter Raymond Zondo moet as die voorsitter verwyder word. Hy is egter tevrede dat Zondo die voorsitter is.

Volgens hom word Suid-Afrika deur verskeie kwessies in die gesig gestaar wat veel wyer as Prasa strek.

“Ek wil my voorbehoud uitspreek en beskou die kommissie as een met ’n agenda en eensydig.”

Montana het gesê hy het ernstige bedenkinge oor die getuienisleier, adv. Vas Soni SC, en dat hy en die kommissie in ’n voortslepende oorlog gewikkel is.

Lucky Montana Vrydagoggend op die sitting van die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Volgens hom volg hy die kommissie en het hy gesien hoe dit sekere sake soos openbare entiteite hanteer.

“Daar is suksesse en mislukkings. Ons as nasie is vinnig om fout te vind. Ons hanteer nie die ernstige kwessies in die land nie. Ons het ’n kort geheue oor wie ons is en waarvandaan ons kom.”

Hy het gesê Suid-Afrika is eerstens ’n Afrikaland. “Ons is ’n land wat in ’n oorlog met onsself gewikkel is.”

Volgens hom het staatsentiteite ’n groot rol in die verlede gespeel, en word dit vernietig. “Prasa is in die laaste drie jaar vernietig.”

Volgens Montana is daar R100 miljard in Prasa belê en tot dusver is infrastruktuur van R40 miljard vernietig.

“Daar is besluit sekuriteitskontrakte is onreëlmatig aangegaan en dit is gekanselleer.”

Montana het aangevoer Suid-Afrika is bereid om R100 te verloor om R1 te spaar.

Volgens hom is alles wat voor die kommissie gestel word nie die totaliteit van die waarheid in die land nie.

Hy het aangevoer die kommissie het die term “onreëlmatige besteding” tot korrupsie en diefstal verhef.

“Onreëlmatige besteding beteken nie korrupsie nie. Daar word aangevoer dat miljarde rande weens staatskaping verloor is, terwyl dit in der waarheid onreëlmatige besteding is.”

Hy meen ook die land se howe het in wanhoop verval.

“Ons beskryf Suid-Afrika as ’n korrupte nasie. Ons sê op internasionale platforms ons is die mees korrupte land. Is dit feitelik korrek?” wou hy weet.

Zondo het in antwoord op Montana se bedenkinge oor die kommissie gesê die kommissie het ’n eed afgelê; dit is ’n baie belangrike kommissie en hy sal fouteer as hy sê daar is nie foute gemaak nie.

“Ek is gretig om alle kante van ’n saak en verskillende perspektiewe aan te hoor,” volgens Zondo.

Selfs die Guptas kan die geleentheid kry om hul saak te stel mits hulle na Suid-Afrika terugkeer.

Zondo het gesê hy wil veral hoor van mense wat by staatskaping geïmpliseer is.

“Ek kan jou verseker daar is nie vooraf besluit wat die bevinding van die kommissie gaan wees nie,” het Zondo gesê.

• Montana is deur verskeie getuies voor die kommissie by beweerde korrupsie en staatskaping betrek.

Hy was glo onder meer betrokke by onreëlmatige tenderprosedures in sy tyd by Prasa en eiendom is glo in ruil vir ’n tender van R800 miljoen vir hom gekoop.

Die aankoop van vier eiendomme met ’n waarde van altesaam R36 miljoen is deur die kommissie ondersoek om te probeer vasstel of dit met die toekenning van Prasa-tenders verbind kan word. Een hiervan is ’n luukse huis in Waterkloof, Pretoria.

Meer oor:  Gekaap  |  Zondo-Kommissie  |  Lucky Montana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.