Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo-kommissie kos al meer as R356 m.

Die werksaamhede van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het belastingbetalers tot dusver meer as R356 miljoen gekos.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Maandag dié inligting in antwoord op ’n parlementêre vraag van Solly Malatsi, DA-LP, verskaf.

Ronald LamolaFoto: GCIS

Malatsi wou weet hoeveel die totale uitgawe van die kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, sedert die ontstaan daarvan beloop.

Uit Lamola se antwoord blyk dit dat die grootste deel van dié geld – R286,4 miljoen – aan goedere en dienste bestee is. Ander uitgawes is onder meer R88,4 miljoen vir ondersoekers, R53 miljoen vir toerusting, R52,9 miljoen vir regsdienste, R34,8 miljoen vir ondersoekhulpmiddels, R15,5 miljoen vir vergoeding van werknemers, R10,5 miljoen vir kommunikasie en R1,9 miljoen vir reis en verblyf.

Die parlement het verlede week gehoor dat Lamola binnekort met Zondo gaan vergader om vas te stel hoe lank die kommissie nog gaan sit. Dit was nadat twee ANC-LP’s tydens ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê het hoewel hulle die pogings steun om korrupsie uit te roei, die Zondo-kommissie soos ’n “daaglikse televisieprogram” geword het en dat dit nie onbepaald kan voortduur nie. Komiteelede het kort tevore gehoor dat geld van ander programme uit die departementele begroting geherprioritiseer moet word om die kommissie te finansier.

Adv. JB Skosana, adjunk-direkteur-generaal in die departement, het in reaksie gesê die werk van die Zondo-kommissie is veronderstel om teen Februarie afgehandel te wees. As die kommissie se werk nie klaar is nie, moet daar by die hof aansoek gedoen word om die sperdatum uit te stel.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het verlede week ook besonderhede in antwoord op ’n parlementêre vraag van Mgcini Tshwaku, EFF-LP, oor die huurkontrakte vir die Zondo-kommissie se bedrywighede verskaf.

Sy sê huurkontrakte is met twee maatskappye onderteken – Redefine Properties en Tiso Blackstar – onder meer vir kantore en vir die ouditorium waar die sittings plaasvind. Die huurgeld het onderskeidelik sedert 28 Mei 2018 en 31 Julie 2018 met die twee maatskappye altesaam R14,8 miljoen beloop.

* Lamola het in antwoord op ’n ander parlementêre vraag gesê die Nugent-kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en korporatiewe beheer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het sedert die ontstaan daarvan R8,1 miljoen beloop. Die grootste deel van dié bedrag, R7,9 miljoen, is aan goedere en dienste bestee, terwyl R205 838 vir die vergoeding van werknemers betaal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.