Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Zondo-kommissie vir Mangaung nodig ná plundering’

Die Mangaung-metro in Bloemfontein het ernstige kontantvloeiprobleme en is net ’n leë dop wat sedert Ace Magashule se bewind as Vrystaatse premier leeg geplunder is.

Werner Horn, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof van die metro, sê alle aanduidings is dat die sogenaamde RET- (radikale ekonomiese transformasie) kamp in die ANC, die Magashule-faksie, die metro aan ’n vorm van kaping – soortgelyk aan staatskaping – onderwerp het.

“Die plundertogte het veroorsaak dat onreëlmatige uitgawes by die metro bly groei het en volgens die jongste verslag van die ouditeur-generaal op R889 miljoen staan.

“Magashule het met die aanstelling van sleutelamptenare, sowel as die politieke leierskap wat ná die 2016-verkiesing na die metro ontplooi is, seker gemaak dat al die weerstand teen die kontrakte en tenders van die RET-groep uit die weg geruim is.”

Ace Magashule Foto: Argief

Kontrakte word ten alle koste aan sogenaamde “bemagtigde” diensverskaffers of kontrakteurs gegee wat ten minste op informele wyse eers deur dié faksie geïdentifiseer en goedgekeur is.

Horn sê dié toekenning van kontrakte en tenders vind nie altyd in die gees van die wet plaas waar oop tenderprosesse voorgeskryf word en waarvolgens objektiewe tenderevaluasie moet plaasvind nie.

“Ook word goeie diens en beste waarde vir geld nie voorop gestel nie. Dit word beslis ’n vorm van kaping,” sê Horn.

Prof. Elizabeth Snyman-Van Deventer Foto: Argief

Dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid, sê sy twyfel nie vir een oomblik dat die metro en Centlec, sy elektrisiteitsverspreider, gekaap is nie. “Dit is so erg dat ’n tipe Zondo-kommissie nodig is om die kaping hier te kom ondersoek.”

Sy het op die jongste raadsvergadering gesê die ANC is ’n korrupte regering wat nie omgee nie en diefstal pleeg, waarop die ANC haar gevra het om net die woord “korrup” terug te trek, wat sy gedoen het.

Hans Britz, DA-raadslid en oud- finansiële hoof van die metro, sê selfs ná die aanstelling van ’n administrateur, adv. Mzwakhe Mofokeng, bly die geldelike posisie van die metro net verder verswak.

Hy sê miljoene is aan die beoogde ontwikkelingsprojek by die Bram Fischer-lughawe bestee, maar ná jare is daar nog nie ’n sooi gespit nie.

Werner Horn Foto: Argief

Voorts is R425 miljoen op ’n geïntegreerde openbare vervoernetwerk (IPTN) bestee terwyl daar tot dusver nog net tien busse deur die metro se “vervoer-tenderpreneur”, David Mothebe van Mothebe Wheels, aangekoop is.

Dit is ondanks ruimskootse vervoertoelaes van die nasionale regering wat vir jare vir die projek gegee is.

Voorts is meer as R45 miljoen se ander voertuie op een tydstip deur Mothebe Wheels gekoop waarop sy kommissie alleen by die R5 miljoen was. Ingevolge sy tender kan hy 10% van die totale koopsom as kommissie eis.

Mothebe het ook miljoene se kommissie gekry op die aankoop van die tien busse en ’n Casspir-pantservoertuig.

Hy het nog kommissie gekry vir twee brandweerwaens en ’n 40 m- hidrouliese platform wat hy pas vir die metro aangeskaf het.

Britz sê Mothebe is na bewering Magashule se boesemvriend.

“Ons is altyd geldelik as die tweede gesondste munisipaliteit in die land gereken – naas Durban – en ons het nou verval tot loshande die swakste van die metro’s.”

Hans Britz

Britz sê die metro het nie meer finansiële kundigheid nie, keur swak begrotings goed en oefen nie behoorlike beheer uit oor die besteding van geld nie.

“Centlec was finansieel sterk en gesond. Dié entiteit se infrastruktuur en instandhouding was vir jare vooruit beplan, maar vandag is dit ’n mislukking.”

Hy sê Dudu Myeni, voormalige uitvoerende hoof van die SAL wat deur die hof onbevoeg verklaar is om as direkteur te dien, is steeds die Centlec-raad se ondervoorsitter, terwyl Nthimotse Mokhesi, voorsitter, beskuldigde nommer een in die asbesdak-saak is. Hy was voorheen hoof van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings.

Britz sê groot gewag is ook gemaak van ’n kabelkarretjie-ontwikkeling van Naval Hill na die Arthur Nathan-swembad, maar intussen het die swembad in ’n bouval verval, terwyl daar vir jare miljoene vir die projek begroot is.

Britz sê die Bloemfonteinse dieretuin wat nou gesluit staan, sou na Kwaggafontein verskuif word. Miljoene is op die nuwe dieretuin en die verskuiwingsprojek bestee, wat nou tot stilstand geruk het.

“Die dieretuin is opsetlik verwaarloos sodat dit moes verval om die grond vir waarskynlik RET-transaksies te verkry.”

Daar is voorts ’n klomp geld op konsultante bestee en nou het dit sommer net uit die begroting verdwyn.

“Deel van die kaping is ook die klomp mense wat Olly Mlamleli, uitgestemde uitvoerende burgemeester, aangestel het en wat nou beskuldigde nommer 12 in die asbesdak-saak is. Dit het bygedra tot die opgeblase salarisbegroting,” sê hy.

Magashule het nie sy telefoon beantwoord nie.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Werner Horn  |  Mangaung  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.