Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo-kommissie wil Zuma dagvaar om te getuig

Die aansoek van die regspan van die kommissie van ondersoek na staatskaping om oudpres. Jacob Zuma te dagvaar sal op 9 Oktober om 09:00 aangehoor word, het adjunkhoofregter Raymond Zondo Maandagoggend beslis.

Zuma moet ook van 16 tot 20 November voor die kommissie verskyn.

Zondo, voorsitter van die kommissie wat staatskaping in die tyd van Zuma se presidentskap ondersoek, het dié aankondiging gedoen toe die dag se sitting begin het.

Zuma sou dié week verder voor die kommissie moes getuig.

Hy het die kommissie egter deur sy regsverteenwoordigers laat weet dat hy nie genoeg tyd gehad het om voor te berei nie.

“Die kommissie onderhandel nie oor die datums met getuies nie. Die kommissie bepaal die datums en indien die getuies ’n goeie rede het om nie te verskyn nie, kan hulle om uitstel vra. Maar ons sal nié met getuies oor datums onderhandel nie.”

Oudpres. Jacob Zuma Foto: Felix Dlangamandla

Zondo het gesê die redes wat Zuma se regspan verstrek het oor waarom hy nie dié week kan verskyn nie, is omdat hy hom op sy verhoor voorberei en omdat sy dokters aanbeveel dat hy weens sy ouderdom nie so baie reis nie.

Zondo het gesê hy wil nie in hierdie stadium kommentaar lewer oor Zuma se redes waarom hy nie dié week voor die kommissie sal verskyn nie.

Die media het talle navrae gedoen onder meer oor of die kommissie Zuma gaan dagvaar om te verskyn en of ander datums vir sy verskyning vasgestel is.

Ten einde vir die kommissie om sy tyd optimaal te gebruik, is planne verander en getuienis wat eintlik eers later vanjaar aangehoor sou word, is vervroeg.

Voorheen is berig dat Eric Mabuza, Zuma se regsverteenwoordiger, gesê het dat mense tyd gegun moet word om hulle voor te berei, en Zuma en sy regspan is nie voorbereid nie. Hy het aangevoer dat die kommissie nooit die datums waarop Zuma weer moes verskyn aan hulle verskaf het nie en hy het die probleme in ’n brief aan die kommissie uiteengesit.

Zuma moes ook einde verlede jaar tussen 11 en 15 November getuig het, maar hy het siekte as ’n rede gebruik oor waarom hy nie die sitting sou kon bywoon nie.

Zuma het in Julie verlede jaar voor die kommissie getuig dat die kommissie deel is van ’n komplot wat reeds 29 jaar lank teen hom gevoer word en dat oud-apartheidspioene hom wil doodmaak.

Sy regsverteenwoordiger tydens sy verskyning voor die kommissie, adv. Muzi Sikhakhane SC, het aangevoer dat Zuma met voorbedagte rade voor die kommissie gedaag is en dat hy gekruisondervra word.

Zuma het toe geen verdere vrae beantwoord nie en die sitting is vir ’n dag onderbreek sodat hy en die Zondo-regspan tot ’n vergelyk kon kom.

Sikhakhane het met die aanvang van die verrigtinge op die laaste dag van Zuma se getuienis aangekondig dat hy nie verder aan die kommissie sal deelneem nie. Hy het egter wel daartoe ingestem nadat sy regsverteenwoordigers met die kommissie se regspan vergader het.

Hy het sedertdien nie weer voor die kommissie verskyn om sy getuienis af te handel nie.

Meer oor:  Staatskaping  |  Politiek  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.