Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo krap kop oor Hlongwane se getuienis

Fana Hlongwane, die sakeman wat saam met “die jong man” Duduzane Zuma na die Guptas se Saxonwold-woonkompleks is toe Mcebisi Jonas glo R600 miljoen en die pos van minister van finansies aangebied is, sê hy weet niks van so ’n aanbod nie.

Die sakeman Fana Hlongwane Woensdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep
Die sakeman Fana Hlongwane getuig Woensdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep
Die sakeman Fana Hlongwane Woensdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Hlongwane het Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig nadat hy gedagvaar is om vrae te beantwoord oor dié ontmoeting op 23 Oktober 2015.

Hlongwane het gehou by die weergawe van Zuma jr., wat hy as “die jong man” beskryf. Volgens dié twee het Zuma jr. uitgevind Jonas versprei gerugte dat Hlongwane hom afpers.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het hierop talle vrae vir Hlongwane gehad. Hy het gesê dit is vir hom moeilik om te verstaan dat ’n hele vergadering gereël is oor die baie vae beweringe van ’n gerug.

Jonas se weergawe daarenteen is dat ’n Gupta-broer die vertrek binnegekom het en Zuma jr., asook Hlongwane, niks gesê het terwyl dié Gupta gepraat het nie.

Dié Gupta-broer het aan Jonas gesê hy moet die nuwe minister van finansies word, want hulle ondervind probleme met die nasionale tesourie wat hy sal kan help oplos. Jonas het getuig die Gupta-broer het R600 miljoen aan hom beloof en na Zuma jr. verwys en gesê hulle het van hom ’n miljardêr gemaak en hy kon ’n eiendom in Dubai koop.

Volgens Jonas se weergawe was hy erg ontsteld en hy het die aand ná die ontmoeting vir Pravin Gordhan gebel om hom van die Gupta-aanbod te vertel.

Hy het ook vir Hlongwane gebel en hom tydens dié oproep daarvan beskuldig dat hy ’n deurslaggewende rol gespeel het in die plan om hom by die Guptas se woonkompleks te kry. Zondo het daarop gewys dat Hlongwane niks van dié oproep in sy weergawe van gebeure genoem het nie.

Hlongwane het getuig hy kan verstaan indien Zondo die dag se ontmoeting in Saxonwold op ’n sekere manier sal interpreteer. “Daar word groot ministers se name genoem. Dit is nie net Sipho of Joe nie.”

Hlongwane het gesê hy het geen keuse gehad as om voor die kommissie te kom getuig nie, hy is gedagvaar om daar te wees.

Oor die ontmoeting by Saxonwold en Zuma jr. se getuienis dat Rajesh (Tony) Gupta slegs vinnig ingeloer en ’n gesprek met Zuma jr. gehad het, het Hlongwane kortliks geantwoord hy sal staat maak op wat Zuma jr. oor die gebeure getuig het, want hy ken die Guptas baie beter.

Hlongwane het gesê hy het nog nooit sake met die Guptas gedoen nie. Die vergadering was by die Guptas se huis omdat “die jong man” dit wou gehad het.

Die beëdigde verklaring van Mcebisi Jonas oor sy weergawe van wat by die Guptas se woonkompleks in Saxonwold gebeur het.
Nog besonderhede in die beëdigde verklaring deur Mcebisi Jonas oor die vergadering by Saxonwold waar hy aanvoer ’n Gupta-broer het hom die pos van minister van finansies aangebied.

Hy kan ook nie onthou dat daar enige aanbod aan Jonas gemaak is by die Guptas se huis nie.

Zondo het ’n klomp vrae aan Hlongwane gehad oor die sogenaamde gerug. Kon Zuma jr. sê by wie hy die gerug gehoor het?

Hlongwane het geantwoord hy kan nie onthou of Zuma jr. gesê het wie die bron van die gerug is nie.

Zondo het gevra of hy meer besonderhede het.

Hlongwane het gesê dat hy nie enige ander besonderhede kon onthou van wat die inhoud van die gerug is nie. Hy het gehoop dat daar mettertyd meer inligting oor die gerug bekend sou word.

Zondo het dit ook gestel dat Hlongwane nie enige probleem met Jonas gehad het, of nou met Jonas het, wat hy nie self met Jonas sou kon uitklaar nie. Maar met daardie spesifieke kwessie het hy Zuma jr. nodig gehad om ’n ontmoeting te reël en te help om dit uit te klaar.

Hlongwane sê dit is korrek.

Die sitting het tot Vrydag verdaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.