Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo laat nuwe ministers skerts

Die teenwoordigheid van adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, het Donderdagmiddag vir ligte vermaak in Pretoria met die beëdiging van die nuwe kabinetslede gesorg.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Felix Dlangamandla

En die een wat vermoedelik daarvoor verantwoordelik was, is Tito Mboweni, minister van finansies.

Kort voordat daar met die verrigtinge in die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis begin is, het dr. Cassius Lubisi, direkteur-generaal in die presidensie, aangekondig Zondo sal ook teenwoordig wees.

Hierop het vermoedelik Mboweni, wat daarvoor bekend is dat hy altyd gereed is met ’n kwinkslag, iets onhoorbaar gesê.

Sy kabinetskollegas het uitgebars van die lag.

Lubisi het met ’n glimlag geantwoord: “Hy (Zondo) is vandag hier in ’n ander hoedanigheid.”

Daar was weer ’n gelag.

Lubisi het verduidelik Zondo sou hoofregter Mogoeng Mogoeng help om die adjunkministers te beëdig.

Toe Zondo later tydens die seremonie opstaan om daarmee te begin, was daar eers stilte, maar die oomblik toe die nou bekende stem op TV opklink, was daar weer ’n harde gelag.

Zondo het vir ’n oomblik verleë gelyk.

Patricia de Lille, die Good-party se leier wat op verrassende wyse deur Ramaphosa as minister van openbare werke en infrastruktuur aangestel is, het baie aandag getrek.

Haar nuwe kollegas het omtrent tougestaan om haar geluk te wens met haar aanstelling.

Van hulle het selfies saam met haar geneem. Die groot groep fotograwe het ook letterlik en figuurlik op haar gefokus.

Die vorige burgemeester van Kaapstad het in Afrikaans op die eed geantwoord. “So help my God,” het sy gesê.

’n Rukkie later het sy spottenderwys bygevoeg sy het doelbewus met die ondertekening van die eed ver van die regter af gesit. “Dit gaan oor die skeiding van magte!”

Mogoeng het lekker gelag. So ook pres. Cyril Ramaphosa.

Alvin Botes, voormalige Noord-Kaapse LUR en 'n nuwe adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, het ook in Afrikaans op die eed geantwoord.

Die kabinetslede was soms soos ’n groep stout skoolkinders. Hulle het mekaar geterg wanneer een van hulle se naam uitgeroep is om beëdig te word.

Hulle het mekaar geterg wanneer een van hulle se naam uitgeroep is om beëdig te word.

Mboweni, Fikile Mbalula, nuwe minister van vervoer en Thulas Nxesi, nuwe minister van werkskepping en arbeid, lyk na die stoute seuntjies in die klas.

Daar was ook ’n gelag toe Gwede Mantashe, minister van energie, beëdig is. Hy het sy eie eed saamgebring om hardop te lees omdat hy sê die een van Mogoeng se lettertipe is te klein en hy kan dit nie lees nie.

Nadat dr. Naledi Pandor, nuwe minister van internasionale betrekkinge en samewerking, beëdig is, het sy na Ramaphosa gestap. Agter uit die saal was dit nie hoorbaar wat sy gesê het nie, maar die glimlag op die president se gesig het dit laat lyk of sy gesê het “president, wat het u besiel om my in dié pos aan te stel!”.

Toe Pandor by die banketsaal van die gastehuis aangekom het, het ’n amptenaar van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking nader gestap en haar gegroet. Sy het vlugtig met die amptenaar gepraat, waarop dié geantwoord het: “Moenie worrie nie minister. Ons is hier om u te help.”

Fout met sertifikaat

Sindi Chikunga, adjunkminister van staatsdiens en administrasie, sal weer beëdig moet word omdat die sertifikaat wat adjunkhoofregter Raymond Zondo voor hom gehad het, nie reg was nie. Op die sertifikaat het gestaan sy sal die ampseed bevestig, terwyl sy dit sou aflê.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.