Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Mantashe verklaar band tussen ANC, Guptas

“Wat die ANC nou weet van die Guptas, het ons nie toe geweet nie.”

So het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê.

Mantashe getuig in sy hoedanigheid as nasionale voorsitter en voormalige sekretaris-generaal van die ANC. Hy het gesê as voorsitter van die ANC glo hy dit is nodig om te verduidelik hoe die verhouding tussen die Guptas en die ANC ontwikkel het. “Dit is baie belangrik, want terugskouing is ’n presiese wetenskap.”

Hy het getuig dat Ajay Gupta ’n paar jaar nadat die Gupta-broers in Suid-Afrika aangekom het, lid geword het van die span ekonomiese raadgewers van oudpres. Thabo Mbeki.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, getuig Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

Die Guptas het in 2010 voorgestel dat die ANC ’n koerant en televisiekanaal begin. Die ANC was van mening dat dié mediaplatforms dringend nodig was om dekking aan sy programme te gee. In daardie stadium het die ANC nie van die ander ondernemings van die Guptas geweet nie, volgens Mantashe.

Hy het getuig indien jy vandag na koerante kyk, weet jy wat om te verwag nog voordat jy dit oopmaak. Dit was ook die geval toe die ANC besluit het dat die nuusdekking aandag moet kry.

Volgens Mantashe het die ANC ’n tydperk van onstabiliteit deurgemaak nadat besluit is dat oudpres. Jacob Zuma moet bedank. “Dit kan gesien word as die gevolg van die Guptas se betrokkenheid en houvas op Zuma wat waargeneem is.”

Mantashe het gesê die landing van die Gupta-vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis in 2013, asook Fikile Mbalula, minister van vervoer, se uitlating in 2011 op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) dat Ajay Gupta hom gebel en gelukgewens het dat hy ’n minister gaan word, het die ANC van die gebeure rondom die Guptas bewus begin maak.

Mantashe het gesê hy sal in sy getuienis ook aandag gee aan:

• Die getuienis van Barbara Hogan, oudminister van openbare ondernemings, wat op 14 November 2018 voor die kommissie getuig het hoe Zuma haar as minister afgedank het;

• Die getuienis van Mcebisi Jonas, wat van 2014 tot 2016 adjunkminister van finansies was. Hy het onder meer getuig dat Duduzane, Zuma se seun, hom verpes het met boodskappe en oproepe dat hulle moet vergader en dat Duduzane hom toe geneem het na die Gupta-woning in Saxonwold, waar Ajay hom R600 miljoen aangebied het indien hy sou instem om die nuwe minister van finansies te word;

• Die getuienis van Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, wat beweer het dat die Guptas haar in hul huis in Saxonwold en in Zuma se teenwoordigheid ’n kabinetspos aangebied het; en

• Die kwessie van Transnet-tenders, die gebeure by Eskom, Denel en ander staatsondernemings.

Mantashe het getuig wanneer dit gaan oor die verwydering van ’n president, en in die geval van Zuma, neem die ANC ook in ag wat die uitwerking daarvan sal wees en dat daar met sorg hieroor besluit moet word.

“Onlangse gebeure wys hoe broos ’n demokrasie kan wees,” het Mantashe gesê.

Hy het getuig dat wanneer ’n mens die president verwyder, verwyder jy ook in der waarheid die hele kabinet. Toe Zuma verwyder is, was daar ’n lang lys van ministers wat bedank het.

“Die ANC kan nooit die keuse maak dat wanneer ’n mens in ’n vertrek ingaan, trek jy al die pilare om en vernietig die stelsel vir almal nie. Dit is ’n gevaarlike en dodelike keuse.”

Hy het getuig dit was sy mening dat die ANC as party nie moet ineenstort en dat ’n krisis sodoende geskep word nie.

Mantashe het getuig John Steenhuisen, DA-leier, het verwys daarna dat die ANC ’n beleid het van kaderontplooiing, en gesê daar is nié so ’n beleid in die ANC nie, slegs ’n beleid van ontplooiing.

Daar is wel ’n kaderbeleid in die ANC, maar dit gaan daaroor dat kaders ontwikkel moet word om sekere take te kan verrig, dit beteken nie ontplooiing nie, volgens Mantashe.

• Pres. Cyril Ramaphosa gaan eers later voor die Zondo-kommissie getuig, maar hy sal steeds getuig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het Woensdagoggend bevestig dat Ramaphosa gevra het om nie meer op 22 en 23 April te getuig nie, maar wel op 28 en 29 April.

Volgens Ramaphosa se versoek het hy ander verpligtinge op 22 en 23 April, en hy sal dan ook op 13 en 14 Mei kan getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.